hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 1 Afrikaans 1983 (AFR83)

Moenie soos julle voorvaders wees nie

1. In die agste maand van die tweede regeringsjaar van Darius het die woord van die Here gekom tot die profeet Sagaria seun van Berekja, seun van Iddo:

2. Die toorn van die Here het oor julle voorvaders losgebreek.

3. En nou moet jy vir jou volk sê: So sê die Here die Almagtige: Bekeer julle tot My, sê die Here die Almagtige, dan sal Ek weer by julle wees, sê die Here die Almagtige.

4. Moenie soos julle voorvaders wees nie. Die profete van vroeër het hulle aangespreek en gesê: “So sê die Here die Almagtige: Bekeer julle van julle slegte lewe en julle slegte dade!”Maar hulle was ongehoorsaam, hulle het hulle nie aan My gesteur nie, sê die Here.

5. Waar is julle voorvaders nou? En die profete? Leef húlle vir altyd?

6. Het die uitsprake, die voorskrifte wat Ek my dienaars die profete laat maak het, dan nie julle voorvaders ingehaal nie? Hulle moes erken: Die Here die Almagtige het met ons gedoen wat Hy Hom voorgeneem het om met ons te doen, presies volgens ons lewe en ons dade.

Die eerste gesig: die ruiters

7. Op die vier en twintigste dag van die elfde maand, die maand Sebat, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die woord van die Here gekom tot die profeet Sagaria seun van Berekja, seun van Iddo.

8. Ek het in die nag 'n gesig gesien. Daar het 'n man op 'n bruin perd gesit. Hy was tussen die mirtestruike in 'n diep kloof, en agter hom was ruiters op bruin en vos en wit perde.

9. Ek het gevra: “Wat beteken dit, Meneer?”'n Engel wat vir my die gesig moes uitlê, het vir my gesê: “Ek sal jou laat sien wat dit beteken.”

10. Toe praat die man wat tussen die mirte was. Hy het gesê: “Dit is die ruiters wat deur die Here uitgestuur is om die wêreld te deurkruis.”

11. Die ruiters sê toe vir die engel van die Here, vir die engel wat tussen die mirte was: “Ons hét die wêreld deurkruis, en die hele wêreld is rustig en stil.”

12. Toe sê die engel wat vir my die gesig moes uitlê, die engel van die Here: “Here, Almagtige, hoe lank gaan dit nog duur voordat U U weer oor Jerusalem en die stede van Juda ontferm? U toorn rus nou al sewentig jaar op hulle!”

13. Die Here het die engel vriendelik geantwoord en hom bemoedig.

14. Daarna sê die engel vir my: “Roep en sê: So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem, oor Sion.

15. My toorn gaan losbreek teen die nasies wat nou so sorgvry woon, want my toorn teen Jerusalem was nie so groot nie; dit is die heidennasies wat dit so 'n groot ramp laat word het.

16. Daarom, so sê die Here, gaan Ek My weer oor Jerusalem ontferm: my tempel daar gaan herbou word, sê die Here die Almagtige, Jerusalem sal opnuut as stad uitgelê word.

17. “Roep weer en sê: So sê die Here die Almagtige: My stede sal weer oorstroom word deur voorspoed. Ek, die Here, gaan weer genade betoon aan Sion, Ek gaan Jerusalem weer my woonplek maak.”

Die tweede gesig: die horings

18. Ek het weer 'n gesig gesien. Daar was vier horings,

19. en ek het vir die engel wat vir my die gesig moes uitlê, gevra: “Wat beteken dit?”Hy het vir my gesê: “Dit is die horings wat vir Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het.”

20. Toe laat die Here my vier ambagsmanne sien,

21. en ek vra: “Wat het hulle kom doen?”Hy het geantwoord: “Daardie horings het die mense van Juda verstrooi en verneder. Die ambagsmanne het gekom om die regeerders van die nasies, die horings wat vir Juda met soveel geweld verstrooi het, die skrik op die lyf te ja en hulle tot 'n val te bring.”