Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:38-57 Afrikaans 1983 (AFR83)

38. Toe sê Sebul vir hom: “Hoe lyk dit nou met jou groot mond waarmee jy gesê het: ‘Wie is Abimelek nogal dat ons aan hom moet onderdanig wees?’ Is dit nie dalk die mense van wie jy so met minagting gepraat het nie? Trek nou op en gaan veg teen hulle.”

39. Gaäl is toe voor die burgers van Sigem uit en hy het teen Abimelek gaan veg.

40. Hy het vir Gaäl op die vlug gejaag en Gaäl het vir Abimelek gevlug. Daar het baie mense gesneuwel by die stadspoort.

41. Abimelek het in Aruma gewoon, en Sebul het vir Gaäl en sy mense verdryf en hulle kon nie in Sigem bly woon nie.

42. Die volgende môre het die burgers van die omgewing dit vir Abimelek gaan vertel.

43. Hy het sy manne gevat en in drie groepe verdeel en 'n hinderlaag in die veld opgestel. Toe hy die mense uit die stad sien uitkom, het hy hulle gestorm en verslaan.

44. Abimelek en die leiers by hom het gestorm en by die poort van die stad gaan staan, en die twee ander groepe het gestorm en al die mense in die oop veld verslaan.

45. Abimelek het daardie hele dag teen die stad geveg. Hy het dit ingeneem en al die mense daarin doodgemaak. Hy het die stad afgebreek en sout daaroor gestrooi.

46. Toe al die burgers van Migdol-Sigem dit hoor, het hulle na die grafkelder in die tempel van El-Berit toe gegaan.

47. Aan Abimelek is vertel dat al die burgers van Migdol-Sigem daar bymekaargekom het.

48. Toe het hy met sy manne Salmonberg uitgeklim. Hy het 'n byl gevat, 'n boomtak afgekap en dit op sy skouer getel. Toe sê hy vir sy manne: “Julle het gesien wat ek doen. Doen dit ook gou!”

49. Elkeen het toe vir hom 'n tak gekap en hulle het vir Abimelek gevolg. Hulle het dit teen die grafkelder opgestapel met die mense daarbinne, en dit aan die brand gesteek. So het hulle al die burgers van Migdol-Sigem doodgemaak, omtrent duisend mans en vrouens.

50. Daarna is Abimelek na Tebes toe. Hy het dit beleër en ingeneem.

51. In die middel van die stad was daar 'n sterk toring en al die mans en vrouens van Tebes het daarheen gevlug, al die burgers van die stad is daar in. Hulle het hulleself daarin toegesluit en op die dak van die toring gaan staan.

52. Abimelek het by die toring gekom en wou dit bestorm, maar toe hy by die deur van die toring kom om dit aan die brand te steek,

53. het 'n vrou 'n maalklip op sy kop gegooi en sy kopbeen verbrysel.

54. Toe roep hy gou sy wapendraer en sê vir hom: “Trek jou swaard! Maak my dood. Hulle moenie van my kan sê 'n vrou het my doodgemaak nie!”Sy wapendraer het hom toe met die swaard deurboor, en so is Abimelek dood.

55. Toe die Israeliete sien Abimelek is dood, is hulle almal huis toe.

56. So het God die onreg gestraf wat Abimelek sy pa aangedoen het toe Abimelek sy sewentig broers vermoor het.

57. God het ook al die verkeerde dade van die mense van Sigem op hulle koppe laat afkom: die vloek wat Jotam seun van Jerubbaäl oor hulle uitgespreek het, het hulle getref.

Lees volledige hoofstuk Rigters 9