Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Jefta was 'n seun van Gilead. Hy was 'n dapper soldaat. Sy ma was 'n prostituut, maar sy pa was Gilead.

2. Gilead se vrou het ook vir hom seuns in die wêreld gebring, en toe hulle grootword, het hulle vir Jefta weggejaag en vir hom gesê: “Jy mag nie van ons pa erf nie, want jy is die kind van 'n ander vrou.”

3. Toe vlug Jefta van sy broers af weg en gaan woon in Tob. 'n Klomp leeglêers het hulle by Jefta geskaar en saam met hom gegaan.

4. 'n Ruk daarna het die Ammoniete teen die Israeliete kom veg.

5. Dit is toe dat die leiers van Gilead vir Jefta uit Tob gaan haal het.

6. Hulle het vir hom gesê: “Kom word ons aanvoerder sodat ons teen die Ammoniete kan veg.”

7. Jefta het vir die leiers van Gilead gesê: “Julle het my gehaat. Julle het my weggejaag uit my pa se huis uit. Waarom kom julle noudat julle in die moeilikheid is na my toe?”

8. Maar die leiers van Gilead het vir Jefta gesê: “Dit is juis waarom ons terug is by jou. Jy moet saam met ons kom sodat ons kan gaan oorlog maak teen die Ammoniete. Jy moet ons leier word en ook al die mense van Gilead s'n.”

9. Toe sê Jefta vir die leiers van Gilead: “Moet ek julle leier word as julle my terugneem om teen die Ammoniete te veg en die Here hulle in my mag oorgee?”

10. Die leiers van Gilead het vir Jefta gesê: “Die Here hoor wat ons vir mekaar sê en Hy sal ons straf as ons nie doen wat jy sê nie.”

11. Jefta is toe saam met die leiers van Gilead, en die leër het hom aangestel as hulle leier en aanvoerder. Hy het alles wat hy vir die leiers van Gilead gesê het, in Mispa herhaal in die teenwoordigheid van die Here.

12. Toe stuur Jefta boodskappers na die koning van die Ammoniete toe om hom te vra: “Wat het tussen ons gebeur dat jy hiernatoe gekom het om teen my land oorlog te maak?”

13. Die koning van die Ammoniete het die boodskappers van Jefta geantwoord: “Toe die Israeliete uit Egipte weggetrek het, het hulle my land gevat, van die Arnon af tot by die Jabbok en die Jordaan. Gee dit nou in vrede terug.”

14. Jefta het toe weer boodskappers na die koning van die Ammoniete toe gestuur

15. om vir hom te sê: “So sê Jefta: Israel het nie die grond van die Moabiete en die grond van die Ammoniete gevat nie.

16. Toe Israel uit Egipte weggetrek het, het hy deur die woestyn getrek tot by die Rietsee, en toe het hy by Kades aangekom.

17. Daar het hy boodskappers na die koning van Edom toe gestuur en gevra: ‘Laat my asseblief deur jou land trek,’ maar hy het nie ingestem nie. Israel het dieselfde van die koning van Moab gevra, maar hy wou hulle nie toelaat nie. Israel het toe in Kades gebly.

Lees volledige hoofstuk Rigters 11