Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 10:12-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Moses het vir Aäron en sy twee seuns wat nog gelewe het, Eleasar en Itamar, gesê: “Vat die graanoffer wat oorgebly het nadat die vuuroffer aan die Here gebring is, en eet dit by die altaar. Daar mag nie suurdeeg by kom nie. Omdat dit 'n besondere gewyde gawe is,

13. moet julle dit op 'n gewyde plek eet. Volgens die bevel wat ek ontvang het, is dit julle deel uit die vuuroffer wat aan die Here gebring word.

14. Maar die borsstuk van die beweegoffer en die boud uit die offergawe mag julle en julle familie op enige rein plek eet, want dit is die deel wat julle en julle familie toekom uit die maaltydoffers van die Israeliete.

15. Die Israeliete moet die boud uit die offergawe en die borsstuk wat as beweegoffer vir die Here aangebied is, bring wanneer hulle die vetdele bring wat vir die vuuroffer bedoel is. Hulle moet dit as beweegoffers aan die Here aanbied. Daarna kry julle dit. Die Here het beveel dat dit 'n vaste voorskrif moet wees.”

16. Toe Moses op 'n keer navraag doen oor die sondeofferbok en hy uitvind dat dit verbrand is, was hy kwaad vir Eleasar en Itamar, die seuns van Aäron wat nog gelewe het. Hy vra toe:

17. “Waarom het julle nie die sondeoffer op 'n gewyde plek geëet nie? Dit is 'n besondere gewyde gawe en die Here het dit aan julle gegee om die sonde van die gemeente weg te neem; dit is bedoel om vir hulle by die Here versoening te doen.

18. Omdat die bloed nie in die heiligdom ingeneem is nie, moes julle die sondeoffer in die heiligdom geëet het soos ek julle beveel het.”

19. Aäron antwoord toe daarop: “Die mense hét vandag hulle sondeoffer en brandoffer aan die Here gebring, en tog het hierdie ramp my getref! Sou dit dan enige verskil gemaak het as ek die sondeoffer geëet het?”

20. Toe Moses dit hoor, was hy tevrede.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 10