Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24:24-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. Sy het hom geantwoord: “Ek is die dogter van Betuel, die seun wat deur Milka vir Nahor in die wêreld gebring is.”

25. Verder het sy gesê: “Ons het baie strooi en kameelvoer, en daar is plek om te oornag.”

26. Toe het die man gekniel en tot die Here gebid:

27. “Aan die Here die God van Abraham wie se slaaf ek is, kom die lof toe! Die Here het nie sy troue liefde van my eienaar weerhou nie en vir my het die Here reguit gelei na die huis van my eienaar se broer toe.”

28. Die meisie het na haar ma se huis toe gehardloop en alles gaan vertel.

29-30. Rebekka het 'n broer gehad met die naam Laban. Toe hy die neusring sien en die armbande aan sy suster se arms en haar hoor vertel wat die man alles vir haar gesê het, het hy na die man toe gehardloop by die fontein buite die stad. Toe hy by hom kom, het die man nog by die kamele gestaan, langs die fontein.

31. Laban het vir hom gesê: “Kom saam! Jy is 'n man wat deur die Here geseën is. Waarom bly jy hier buite staan? Ek het vir jou plek reggemaak in my huis, en daar is ook plek vir die kamele.”

32. Die man is toe saam huis toe, en Laban het die kamele laat afsaal en vir hulle voer gegee en strooi om op te lê. Vir die man het hy water gegee om sy voete te was en ook vir die mense by hom.

33. Toe hulle vir die man kos bring om te eet, sê hy: “Ek sal nie eet voor ek my opdrag uitgevoer het nie.”Laban het gesê: “Praat gerus!”

34. Toe sê die man: “Ek is 'n slaaf van Abraham.

35. Die Here het my eienaar baie geseën en hy is ryk. Die Here het hom kleinvee en grootvee gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies.

Lees volledige hoofstuk Genesis 24