Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 4:18-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. nie van enigiets wat op die aarde kruip of van enige vis in die waters onder die aarde nie.

19. “Wanneer julle na die hemelruim opkyk, die son, die maan en die sterre, enige hemelliggaam, moet julle nie julle hoop op hulle vestig nie. Moet julle nie laat verlei om hulle te vereer en te dien nie. Die Here julle God het hulle toegeken aan al die volke op die aarde.

20. “Vir julle het die Here gevat en uit die ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy volk te wees wat aan Hom behoort soos dit vandag dan ook die geval is.

21. Deur julle toedoen het die Here vir my kwaad geword en dit met 'n eed bevestig dat ek nie deur die Jordaan sou gaan en in die goeie land sou kom wat die Here julle God aan julle as besitting sal gee nie.

22. Ek sal in hierdie land sterf. Ek sal nie die Jordaan oorsteek nie, maar julle sal deurtrek en daardie goeie land in besit neem.

23. Wees versigtig om nie die verbond wat die Here julle God met julle gesluit het, te vergeet nie. Pas op om nie vir julle 'n afgodsbeeld te maak nie. Die Here jou God het jou dit verbied.

24. Die Here jou God is 'n verterende vuur, Hy eis onverdeelde trou aan Hom.

25. “Wanneer julle kinders en kleinkinders het en julle oud geword het in die land, moet julle nie julle eie ondergang soek deur 'n afgodsbeeld te maak nie, want dan doen julle wat verkeerd is in die oë van die Here julle God en tart julle Hom.

26. Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat julle dan baie gou en baie beslis sal verdwyn uit die land wat julle in besit gaan neem sodra julle deur die Jordaanrivier trek. Julle sal nie lank in die land bly woon nie, julle sal beslis uitgeroei word.

27. Die Here sal julle verstrooi onder die volke, net 'n klein klompie van julle sal oorbly onder die nasies waarheen die Here julle sal lei.

28. Dáár sal julle gode dien wat deur mense gemaak is: hout en klip wat nie kan sien of hoor, eet of ruik nie.

29. As julle die Here julle God dáár aanroep, sal Hy julle gebed verhoor as julle Hom nader in onverdeelde trou.

30. “Wanneer julle in nood verkeer deurdat hierdie dinge in die toekoms oor julle kom, moet julle terugkom na die Here julle God, en sy woord gehoorsaam.

31. Die Here julle God is 'n genadige God. Hy sal julle nie in die steek laat of om die lewe bring nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met 'n eed aan julle voorvaders bevestig het nie.

32. “Gaan stel ondersoek in na die verre verlede, na die dae lank voor julle tyd, van die tyd af toe God die mens op die aarde geskep het, van die een uiteinde van die hemel af tot by die ander uiteinde, en kyk of iets so magtigs al gebeur het en of so iets al gehoor is.

33. Het 'n volk die stem van sy god uit die vuur uit hoor praat, soos julle die stem van julle God gehoor het, en het hy bly lewe?

34. Het 'n god dit ooit gewaag om vir hom 'n nasie te kom vat by 'n ander nasie, en dít met rampe, tekens, wonders, oorlog, magtige dade, wonderlike, groot dade waarvoor mense vreesbevange word? Dit alles het die Here julle God voor julle eie oë in Egipte vir julle gedoen.

35. Dit is vir julle gewys dat julle kan besef die Here is God, en dat daar naas Hom nie 'n ander is nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 4