Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 14:7-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Maar dié wat net herkou of net volledig gesplete kloue het, mag julle nie eet nie: die kameel, die haas, die dassie. Hulle herkou maar het nie gesplete kloue nie: hulle is vir julle onrein.

8. Dit geld ook van die vark: hy het wel gesplete kloue maar hy herkou nie. Hy is vir julle onrein. Julle mag nie die vleis van hierdie diere eet of selfs aan hulle karkasse raak nie.

9. “In die geval van waterdiere mag julle alles eet wat vinne en skubbe het.

10. Maar julle mag nie dié eet wat nie vinne en skubbe het nie: hulle is vir julle onrein.

11. “Julle mag alle rein voëls eet.

12. Die volgende mag egter nie geëet word nie: arende, lammervangers en visarende;

13. swartaasvoëls, valke en al die roofvoëlsoorte;

14. al die kraaisoorte;

15. volstruise, nagvalke, seemeeue en alle soorte roofvoëls;

16. uile, ibisse en flaminke;

17. pelikane, swane en visvangers;

18. ooievaars en al die reiersoorte; hoep-hoepe en vlermuise.

19. “Alle insekte wat vlerke het, is vir julle onrein. Hulle mag nie geëet word nie.

20. Julle mag net rein voëls eet.

21. “Julle mag nie 'n dier wat gevrek het, eet nie. Gee dit vir die vreemdeling wat by julle bly, en hy kan dit eet, of verkoop dit aan 'n uitlander. Julle is 'n gewyde volk, julle behoort aan die Here julle God.“Julle mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.”

22. “Jy moet elke jaar 'n tiende van die opbrengs van jou gesaaides, van wat op jou land groei, opsy sit:

23. jy moet dit in die teenwoordigheid van die Here jou God eet op die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te laat woon. Jy moet die tiende opsy sit van jou koring, jou wyn en jou olie en dan ook nog die eerstelinge van jou grootvee en jou kleinvee, sodat jy kan leer om die Here jou God altyddeur te eer.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 14