Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 12:6-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. en julle brandoffers en ander offers bring, ook julle tiendes en ander bydraes, julle gelofteoffers en vrywillige offers, die eerstelinge van julle groot- en kleinvee.

7. Daar in die teenwoordigheid van die Here julle God moet julle en julle families saam eet en bly wees oor alles wat julle reggekry het deurdat die Here julle God julle voorspoedig gemaak het.

8. Moenie doen soos ons nou hier doen deurdat elkeen aanbid waar hy wil nie,

9. want julle het nog nie gekom by die rusplek, die besitting wat die Here julle God vir julle sal gee nie.

10. Maar julle sal deur die Jordaan trek en gaan woon in die land wat die Here julle God julle sal laat besit en daar sal julle rus hê van al julle vyande in die omgewing en daar sal julle veilig woon.

11. Daar is die plek wat die Here julle God sal kies om sy Naam daar te laat woon en daarheen moet julle al die offers bring soos ek julle beveel het: julle brandoffers en ander offers, julle tiendes en ander bydraes, en al die gelofteoffers wat julle aan die Here beloof het.

12. Daar moet julle en julle kinders en julle slawe en slavinne daarvan geniet in die teenwoordigheid van die Here julle God, ook die Leviete wat by julle woon, want hulle het nie 'n deel van die land as besitting saam met julle gekry nie.

13. “Moenie julle brandoffers sommer op enige plek offer wat vir julle goed lyk nie.

14. Julle mag dit net offer op die plek wat die Here sal kies in die gebied van een van die stamme. Daar moet julle julle brandoffers offer en daar moet julle alles doen wat ek julle beveel het.

15. Vir kos mag julle egter op enige plek waar julle woon 'n dier slag en die vleis eet wat die Here julle God vir julle gee deurdat Hy julle voorspoedig maak. Of 'n persoon rein of onrein is, hy mag daarvan eet, ook van 'n ribbok of 'n takbok.

16. Julle mag egter nie die bloed eet nie. Julle moet dit op die grond uitgooi asof dit water is.

17. “In die plekke waar julle woon, mag julle ook nie die tiende van julle koring of wyn of olie eet nie, ook nie die eerstelinge van julle grootvee of kleinvee nie, en ook nie iets wat julle aan die Here beloof het of enige vrywillige offer of ander bydrae aan die Here nie.

18. Dit mag julle net in die teenwoordigheid van die Here julle God eet op die plek wat Hy gekies het. Eet dit, saam met julle seuns en dogters, julle slawe en slavinne en die Leviete wat by julle woon. In die teenwoordigheid van die Here julle God moet julle bly wees oor alles wat Hy julle laat regkry het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 12