Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 12:11-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Daar is die plek wat die Here julle God sal kies om sy Naam daar te laat woon en daarheen moet julle al die offers bring soos ek julle beveel het: julle brandoffers en ander offers, julle tiendes en ander bydraes, en al die gelofteoffers wat julle aan die Here beloof het.

12. Daar moet julle en julle kinders en julle slawe en slavinne daarvan geniet in die teenwoordigheid van die Here julle God, ook die Leviete wat by julle woon, want hulle het nie 'n deel van die land as besitting saam met julle gekry nie.

13. “Moenie julle brandoffers sommer op enige plek offer wat vir julle goed lyk nie.

14. Julle mag dit net offer op die plek wat die Here sal kies in die gebied van een van die stamme. Daar moet julle julle brandoffers offer en daar moet julle alles doen wat ek julle beveel het.

15. Vir kos mag julle egter op enige plek waar julle woon 'n dier slag en die vleis eet wat die Here julle God vir julle gee deurdat Hy julle voorspoedig maak. Of 'n persoon rein of onrein is, hy mag daarvan eet, ook van 'n ribbok of 'n takbok.

16. Julle mag egter nie die bloed eet nie. Julle moet dit op die grond uitgooi asof dit water is.

17. “In die plekke waar julle woon, mag julle ook nie die tiende van julle koring of wyn of olie eet nie, ook nie die eerstelinge van julle grootvee of kleinvee nie, en ook nie iets wat julle aan die Here beloof het of enige vrywillige offer of ander bydrae aan die Here nie.

18. Dit mag julle net in die teenwoordigheid van die Here julle God eet op die plek wat Hy gekies het. Eet dit, saam met julle seuns en dogters, julle slawe en slavinne en die Leviete wat by julle woon. In die teenwoordigheid van die Here julle God moet julle bly wees oor alles wat Hy julle laat regkry het.

19. So lank as julle in julle land woon, mag julle nie die Leviet afskeep nie.

20. “Wanneer die Here julle God julle grondgebied uitbrei, soos Hy julle beloof het, en julle besluit om vleis te eet omdat julle lus is daarvoor, mag julle dit in enige plek eet waar julle woon.

21. Wanneer die plek wat die Here julle God sal kies om sy Naam daar te vestig, ver van julle af is, kan julle van die grootvee of die kleinvee wat die Here vir julle gegee het, slag soos ek julle beveel het en julle kan dit na hartelus geniet in die plek waar julle woon,

22. en soos in die geval van 'n ribbok of 'n takbok mag almal, rein en onrein, daarvan eet.

23. Julle moet net sorg dat julle nie die bloed eet nie, want die lewe van 'n dier is in sy bloed, en julle mag nie die lewe saam met die vleis eet nie.

24. Julle mag die bloed nie eet nie. Julle moet dit op die grond uitgooi asof dit water is.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 12