Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:25-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. Daar was nie voor hom nog so 'n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie, en ná hom was daar ook nie so 'n koning soos hy nie.

26. Die Here het egter nie sy hewige toorn teen Juda laat vaar nie. Hy het toornig gebly oor Manasse se uittartende optrede teen Hom.

27. Hy het gesê: “Ek sal Juda ook uit my teenwoordigheid verwyder, net soos Ek Israel verwyder het. Ek sal hierdie stad, Jerusalem, wat Ek uitverkies het, verwerp, en ook die tempel waarvan Ek gesê het: My Naam sal daar wees.”

28. Die ander verhale oor Josia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

29. In sy tyd was die farao koning Neko van Egipte op pad na die koning van Assirië toe aan die Eufraat. Koning Josia het teen die farao opgetrek, maar die farao het hom met die bymekaarkom in Megiddo doodgemaak.

30. Sy lyfwagte het sy lyk op 'n wa gesit en na Jerusalem toe gebring. Daar het hulle hom in sy graf begrawe.Die burgers van die land het Josia se seun Joahas geneem, hom gesalf en hom koning gemaak in sy pa se plek.

31. Joahas was drie en twintig toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem geregeer. Sy ma was Gamutal, 'n dogter van Jeremia uit Libna.

32. Joahas het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en in alles die voorbeeld van sy voorvaders gevolg.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23