Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:17-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Daarna sê Josia: “Watter grafsteen sien ek daar?” en die mense van die stad sê vir hom: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en voorspel het presies wat u met die altaar van Bet-El gedoen het.”

18. Toe sê hy: “Laat hom rus, moenie sy bene versteur nie.” Hulle het toe sy bene en die bene van die profeet wat uit Samaria gekom het, met rus gelaat.

19. Josia het verder al die heiligdomme wat deur die konings van Israel op die hoogtes by die stede van Samaria gebou is om die Here uit te tart, laat opruim. Hy het met hulle gemaak soos hy in Bet-El gedoen het.

20. Al die priesters wat daar op die hoogtes diens gedoen het, het hy op die altare laat slag en mensbene op die altare laat verbrand. Daarna is hy terug Jerusalem toe.

21. Daarna het die koning die volk beveel: “Vier die paasfees tot eer van die Here julle God soos dit voorgeskryf is in hierdie boek van die verbond.”

22. 'n Paasfees soos hierdie is nie gevier van die tyd van die leiers af wat oor Israel geregeer het nie, ook nie tydens die regering van die konings van Israel en Juda nie.

23. Hierdie paasfees tot eer van die Here is in die agtiende regeringsjaar van koning Josia in Jerusalem gevier.

24. Josia het ook die dodebesweerders en die waarsêers, die afgodsbeelde, al die stinkende en veragtelike afgode wat in Juda en Jerusalem te sien was, uitgeroei. So het hy voldoen aan die eise van die wet soos dit opgeteken was in die boek wat die priester Gilkija in die huis van die Here gekry het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23