Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:18-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Hulle het na die koning geroep, en toe het die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf na hulle toe gegaan.

19. Toe sê die hoofadjudant vir hulle: “Sê vir Hiskia: So sê die groot koning van Assirië: Waarop berus hierdie vertroue van jou?

20. Jy dink woorde alleen is genoeg vir strategie en militêre mag. Op wie vertrou jy dat jy in opstand is teen my?

21. Jy vertrou op Egipte, op 'n versplinterde riet wat jou in die hand steek en jou seermaak as jy op hom leun. Dit is wat die farao, die koning van Egipte, beteken vir almal wat op hom vertrou.

22. En as julle vir my wil sê julle vertrou op die Here julle God, dit is mos Hy wie se hoogtes en altare Hiskia laat verwoes het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet net by hierdie altaar in Jerusalem aanbid.’

23. Wil jy 'n ooreenkoms aangaan met my koning, die koning van Assirië? Ek gee jou twee duisend perde: sal jy die ruiters vir hulle kan voorsien?

24. Hoe sal jy weerstand kan bied teen één goewerneur, één van my koning se onbelangrikste amptenare? En dan vertrou jy op Egipte vir strydwaens en perde!

25. Buitendien, ek het nie sonder die Here opgetrek teen hierdie plek om dit te verwoes nie; die Here het vir my gesê: Trek op teen daardie land en verwoes dit.”

26. Toe sê Eljakim seun van Gilkija, en Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Praat tog asseblief met ons Aramees, ons verstaan dit, maar moenie met ons Judees praat dat die manskappe op die muur dit kan verstaan nie.”

27. Maar die hoofadjudant sê vir hulle: “Dink julle my koning het my net na julle koning en na julle toe gestuur om dié dinge te sê, en nie ook na die manne wat op die muur sit nie? Hulle sal hulle eie ontlasting moet eet en hulle eie urine moet drink, net soos julle!”

28. Toe gaan staan die hoofadjudant en hy skree hard in Judees: “Luister wat die groot koning sê, die koning van Assirië!

29. So sê die koning: Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie uit my mag red nie.

30. En moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie. Hy sê: ‘Die Here sal ons sekerlik red; dié stad sal nie oorgegee word in die mag van die koning van Assirië nie.’

31. Moenie na Hiskia luister nie, want só sê die koning van Assirië: Maak vrede met my en kom uit na my toe, dan sal elkeen die vrugte van sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink

32. tot ek kom en julle wegvat na 'n land toe net soos julle land. Dit is 'n land met koring en wyn, 'n land met kos en wingerde, 'n land met olyfolie en heuning. Dan sal julle lewe, julle sal nie sterwe nie. Moenie na Hiskia luister nie. Hy bedrieg julle as hy sê die Here sal julle red.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18