Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 22:3-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Daarvandaan het Dawid na Mispe in Moab toe gegaan en vir die koning van Moab gevra: “Laat my ouers tog uitkom na u toe totdat ek weet wat God aan my sal doen.”

4. Dawid het hulle toe in die sorg van die koning van Moab gelaat. Hulle het by hom gebly so lank as Dawid in die bergskuiling was.

5. Maar die profeet Gad het vir Dawid gesê: “Jy mag nie in die skuiling bly nie. Trek weg en gaan na Juda toe.”Dawid het toe na die Geretbos toe gegaan.

6. Terwyl Saul in Gibea op 'n hoogte onder 'n tamarisk gesit het met sy spies in sy hand, en al sy amptenare by hom gestaan het, het hy verneem dat die mense weet waar Dawid en sy manne is.

7. Saul het vir sy amptenare wat by hom staan, gesê: “Luister tog, Benjaminiete! Sal die seun van Isai miskien ook vir julle almal velde en wingerde gee en julle almal aanstel as leiers van duisende en leiers van honderde?

8. Julle almal het saamgesweer teen my. Niemand het my vertel dat my seun 'n verbond met die seun van Isai gesluit het nie; niemand van julle het medelye met my nie; niemand het my vertel dat my seun 'n amptenaar van my teen my opmaak, sodat hy vandag vir my 'n bedreiging is nie.”

9. Doëg die Edomiet het tussen die amptenare van Saul gestaan en hy het gesê: “Ek het die seun van Isai gesien toe hy in Nob by Agimelek seun van Agitub gekom het.

10. Agimelek het die Here vir Dawid geraadpleeg en vir hom padkos gegee. Agimelek het ook die swaard van die Filistyn Goliat vir hom gegee.”

11. Daarop het die koning gestuur om die priester Agimelek, seun van Agitub, en sy hele familie, die priesters in Nob, te ontbied, en hulle het almal na die koning toe gekom.

12. Saul het toe gesê: “Luister, seun van Agitub.”En hy het geantwoord: “Ek luister, U Majesteit.”

13. En Saul het vir hom gevra: “Waarom het jy en die seun van Isai teen my saamgesweer toe jy vir hom brood en 'n swaard gegee en God vir hom geraadpleeg het, sodat hy teen my in opstand kon kom en vandag vir my 'n bedreiging is?”

14. Agimelek het die koning geantwoord: “Maar wie van al u amptenare is so betroubaar soos Dawid, die skoonseun van die koning? Hy is die hoof van u lyfwag en geniet hoë aansien in u huis.

15. Dit is in elk geval nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie. Die koning moet my en my hele familie nie van iets beskuldig nie, want ek het beslis niks van die hele saak af geweet nie.”

16. Maar die koning het gesê: “Agimelek, jy moet sterwe, jy en jou hele familie.”

17. Toe beveel die koning die hardlopers wat by hom staan: “Pak hulle en maak dood die priesters van die Here, want hulle is aan Dawid se kant. Hulle het baie goed geweet dat hy vlug en hulle het my dit nie vertel nie.”Maar die amptenare van die koning wou nie 'n vinger verroer om die priesters van die Here aan te val nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 22