Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 19:12-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Mikal het Dawid toe deur die venster laat afsak. Hy het weggegaan, gevlug en ontsnap.

13. Maar Mikal het die afgodsbeeld gevat en op die bed neergesit. Sy het 'n bokhaarnet om die beeld se kop gedraai en dit met 'n kombers toegemaak.

14. Toe Saul se mense daar kom om vir Dawid te vang, sê sy: “Hy is siek.”

15. Daarna het Saul sy manne gestuur om na Dawid te gaan kyk en beveel: “Bring hom na my toe met bed en al dat ek hom kan laat doodmaak.”

16. Die manne het ingekom, en toe lê die afgodsbeeld op die bed, met die bokhaarnet aan die koppenent.

17. Saul sê toe vir Mikal: “Waarom het jy my so bedrieg en my vyand vrygelaat om te ontsnap?”Maar Mikal het vir Saul geantwoord: “Hy het vir my gesê: Laat my gaan, anders maak ek jou dood.”

18. Ondertussen het Dawid gevlug en ontsnap en by Samuel in Rama gekom en hom alles vertel wat Saul hom aangedoen het. Hy en Samuel het in die woonkwartiere van die profete gaan woon.

19. Daarna is aan Saul berig: “Weet u, Dawid is in die profetekwartiere in Rama.”

20. Daarop stuur Saul boodskappers om Dawid gevange te neem. Toe hulle die groep profete sien wat besig was om as profete op te tree onderwyl Samuel hulle voorgaan, het die Gees van God oor die boodskappers van Saul gekom, en hulle het self ook begin om as profete op te tree.

21. Dit is aan Saul vertel, en hy het ander boodskappers gestuur. Ook húlle het self begin om as profete op te tree. Hy het 'n derde groep boodskappers gestuur, en hulle het óók begin om as profete op te tree.

22. Daarop het hy self na Rama toe gegaan en toe hy by die groot opgaardam in Seku kom, vra hy: “Waar is Samuel en Dawid?”Iemand het geantwoord: “Daar in die profetekwartiere in Rama.”

23. Hy het na die profetekwartiere toe gegaan in Rama, en die Gees van God het ook oor hom gekom en hy het so in die loop begin om as profeet op te tree totdat hy by die kwartiere in Rama gekom het.

24. Ook hý het sy klere uitgetrek en self as profeet opgetree in die teenwoordigheid van Samuel. Daardie hele dag en nag het Saul sonder klere op die grond gelê, sodat die mense gevra het: “Is Saul ook onder die profete?”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 19