Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 9:14-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. In dié tyd het die volgelinge van Johannes na Jesus toe gekom en gevra: “Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas glad nie?”

15. Jesus antwoord hulle: “Kan die bruilofsgaste dan treur solank die bruidegom nog by hulle is? Maar daar kom 'n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas.

16. “Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want die nuwe lap skeur die klere nog verder, en die gat word net groter.

17. “'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen. Nee, 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en so behou jy altwee.”

18. Jesus was nog besig om dit vir die mense te sê toe daar 'n raadslid van die sinagoge voor Hom kom kniel en sê: “My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê u hand op haar en sy sal weer lewe.”

19. Jesus het opgestaan, en Hy en sy dissipels het saam met die man gegaan.

20. 'n Vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak.

21. Sy het vir haarself gesê: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.”

22. Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.”Van daardie oomblik af was die vrou gesond.

23. Daarna het Jesus by die huis van die raadslid gekom. Toe Hy die fluitspelers sien en die klomp mense wat te kere gaan,

24. sê Hy: “Gaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.”Maar hulle het Hom uitgelag.

25. Nadat die mense uitgejaag was, het Hy in die huis ingegaan, die dogtertjie se hand gevat en sy is uit die dood opgewek.

26. Berigte hieroor het deur daardie hele omgewing versprei.

27. Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg. Hulle het aanhoudend geskreeu: “Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!”

28. Jesus het in die huis ingegaan, en die blindes het daar na Hom toe gekom. Hy vra toe vir hulle: “Glo julle dat Ek dit kan doen?”“Ja, Here,” antwoord hulle Hom.

Lees volledige hoofstuk Matteus 9