Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 21:12-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi

13. en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit 'n rowersnes.”

14. Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak.

15. Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: “Prys die Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig.

16. Hulle sê toe vir Hom: “Hoor jy wat sê hulle daar?”“Ja,” antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?”

17. Toe het Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het.

18. Vroeg die môre op pad terug stad toe het Jesus honger gekry.

19. Toe Hy 'n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry nie. Hy sê toe vir die boom: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.”En die vyeboom het dadelik verdroog.

20. Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en het hulle gevra: “Hoe het die vyeboom dan so skielik verdroog?”

21. Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur.

22. As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”

23. Jesus het na die tempel toe gegaan, en terwyl Hy besig was om die mense te leer, kom die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk na Hom toe en vra: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?”

24. Toe antwoord Jesus hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen.

25. Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af?”Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy vir ons sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’

Lees volledige hoofstuk Matteus 21