Ou Testament

Nuwe Testament

Judas 1:3-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het.

4. Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus.

5. Al weet julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel die Here een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié wat nie geglo het nie, laat omkom het.

6. Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag.

7. En dink ook aan die mense van Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle. Net soos daardie engele het hulle onsedelike dade gepleeg en omgang gesoek met vreemde wesens. As waarskuwing vir almal word hulle nou gestraf met die vuur wat ewig brand.

8. En nou is dit met hierdie mense net so. Vanweë die droomgesigte wat hulle sien, bevlek hulle hulle eie liggame, verwerp hulle die gesag van die Here en beledig hulle die hemelwesens.

9. Nie eens die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou straf.”

10. Maar hierdie mense praat lasterlik oor dinge waarvan hulle geen kennis het nie. Hulle is soos verstandlose diere: al waarvan hulle kennis het, is hulle natuurlike drange, en juis dit is hulle ondergang.

11. Verskriklik sal hulle lot wees, want hulle het dieselfde pad as Kain geloop, vir geld het hulle dieselfde bedrog as Bileam gepleeg, soos Korag het hulle in opstand gekom, en dit was hulle ondergang.

12. Hulle besoedel julle liefdesmaaltye met hulle skaamtelose uitspattighede en sorg net vir hulleself. Hulle is wolke wat geen reën bring nie en deur die wind verby gewaai word. Hulle is bome wat selfs laat in die seisoen nog geen vrugte het nie, wat ontwortel en morsdood is.

13. Hulle is woeste golwe van die see; hulle laat hulle skande soos skuim opspat. Hulle is sterre wat uit hulle baan geslinger is. God hou vir hulle plek gereed in die duister dieptes, waar hulle ewig sal bly.

14. Dit is oor hierdie mense dat Henog, wat van die sewende geslag ná Adam was, geprofeteer het. Hy het gesê: “Kyk, die Here kom met sy duisende heilige engele

15. en Hy sal oor almal oordeel. Hy sal al die goddeloses, al die sondaars straf oor al die goddelose dinge wat hulle in hulle goddeloosheid gedoen het, en oor al die lasterlike dinge wat hulle teen Hom gesê het.”

16. Hierdie mense kla gedurig en is altyd ontevrede met hulle lot. Hulle leef net volgens hulle eie begeertes, praat groot en sê vleiende dinge van mense om daaruit vir hulleself voordeel te trek.

17. Maar julle, geliefdes, moet die dinge onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen reeds vir julle geleer het.

Lees volledige hoofstuk Judas 1