Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:25-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. Hy roep hulle en ander mense wat soortgelyke werk doen, toe bymekaar en sê vir hulle: “Mense, julle weet dat ons voorspoed van hierdie werk afhang.

26. Julle sien en hoor self dat hierdie Paulus daarin geslaag het om nie net in Efese vir hom 'n groot aanhang te kry nie, maar ook in byna die hele provinsie Asië. Hy sê dat goed wat met die hand gemaak word, nie gode is nie.

27. Ons bedryf staan in gevaar om 'n slegte naam te kry. En nie net dit nie. Die gevaar is ook dat die tempel van die groot godin Artemis sy betekenis sal verloor en dat sy van haar grootheid berowe sal word, hierdie godin wat in die hele provinsie Asië en oor die hele wêreld vereer word.”

28. By die aanhoor hiervan het hulle woedend geword en geskreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

29. Die oproer het oor die hele stad uitgebrei. Soos een man het die mense na die amfiteater toe gestorm. Hulle het vir Gaius en Aristargos, twee Masedoniërs wat saam met Paulus gereis het, gegryp en saamgesleep.

30. Paulus wou self met die skare gaan praat, maar die gelowiges wou hom dit nie toelaat nie.

31. Ook het party van die hoë amptenare van die provinsie Asië wat goedgesind was teenoor Paulus, vir hom 'n boodskap gestuur om hom te waarsku om nie na die amfiteater toe te gaan nie.

32. Almal het deurmekaar geskreeu, en die hele vergadering was in die war. Die meeste mense het nie geweet hoekom hulle daar bymekaar was nie.

33. Toe die Jode vir Aleksander vorentoe stoot, het party van die mense vir hom gesê wat aan die gang is. Hy het met sy hand gewys dat hy iets vir die volk wil sê.

34. Maar toe hulle merk dat hy 'n Jood is, het hulle almal byna twee uur lank uit een mond aangehou skreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19