hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Paulus en die vals apostels

1. Nou wil ek hê julle moet 'n bietjie dwaasheid van my kant verdra! Ja, verdra my maar!

2. Ek waak oor julle met 'n ywer wat van God kom, want julle is soos 'n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus.

3. Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.

4. Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand 'n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik 'n ander gees en 'n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het.

5. Ek reken dat ek niks agterstaan by julle danige apostels nie.

6. Al is ons miskien nie sulke gladde sprekers nie, in die kennis staan ons nie agter nie. Dit het ons julle tog by elke geleentheid en in alle opsigte laat sien.

7. Sonder vergoeding het ek die evangelie van God aan julle verkondig. Ek het my verneder sodat julle opgehef kon word. Was dit miskien verkeerd van my?

8. Om julle te bedien, het ek van ander gemeentes vergoeding aangeneem en hulle as 't ware so beroof.

9. Toe ek by julle was en geld kortgekom het, het ek niemand lastig geval nie, want die broers wat van Masedonië af gekom het, het ruim in my behoeftes voorsien. Ek het gesorg en sal ook verder sorg dat ek in geen opsig vir julle 'n las word nie.

10. Hierop is ek trots, en so seker as die waarheid van Christus in my is, sal niemand in die hele Agaje my dit ontneem nie.

11. Waarom nie? Omdat ek julle nie liefhet nie? God weet ek het julle lief.

12. Soos ek nou maak, sal ek voortgaan om te maak. Daarmee sal ek vir dié mense wat 'n aanleiding soek om te roem dat hulle net sulke apostels soos ons is, elke aanleiding daartoe ontneem.

13. Sulke mense is vals apostels; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is.

14. En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig.

15. Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie. Aan die einde sal hulle kry wat hulle vir hulle dade verdien.

Paulus se ontberings as apostel

16. Ek herhaal: Niemand moet dink dat ek 'n dwaas is nie. Of anders, beskou my maar as 'n dwaas en laat my ook 'n bietjie grootpraat.

17. Wat ek nou sê, kom nie van die Here nie. Nee, in hierdie aangeleentheid praat ek werklik soos 'n dwaas, in die oortuiging dat ek grond het om te roem.

18. Aangesien daar baie is wat op suiwer menslike gronde grootpraat, sal ek ook grootpraat.

19. Julle wat so verstandig is, verdra mos geredelik die dwaas.

20. Julle verdra dit as iemand julle soos slawe behandel, as iemand julle uitbuit, as iemand julle bedrieg, as iemand julle uit die hoogte behandel, as iemand julle in die gesig klap.

21. Laat my dan maar tot my skande erken dat ons vir sulke dinge te swak was!Nou praat ek soos 'n dwaas: enigiets waarop iemand aanspraak maak om te roem, daarop kan ek ook roem.

22. Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Stam hulle van Abraham af? Ek ook.

23. Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar.

24. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry,

25. drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek 'n dag en 'n nag in die oop see deurgebring.

26. Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers.

27. Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue.

28. Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes.

29. As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan.

30. As daar dan geroem moet word, sal ek roem, maar dan oor my swakhede.

31. Die God en Vader van die Here Jesus weet dat ek nie lieg nie. Aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid!

32. Toe ek in Damaskus was, het die verteenwoordiger van koning Aretas die stad laat bewaak om my te vang.

33. Maar deur 'n venster in die muur is ek in 'n mandjie laat afsak en het ek aan sy hande ontkom.