hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 7 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.

Paulus se blydskap oor die koms van Titus en oor goeie berigte

2. Maak vir ons plek in julle harte. Ons het niemand onreg aangedoen nie, ons het niemand benadeel nie, ons het niemand uitgebuit nie.

3. Ek sê dit nie om julle te beskuldig nie; ek het tog al vantevore gesê dat julle in ons harte is om mee saam te lewe en te sterwe.

4. Ek is baie openhartig met julle; ek is ook baie trots op julle. In al ons sorge is ek vol moed en oorstelp van blydskap.

5. Toe ons in Masedonië gekom het, het ons geen rus of duurte gehad nie. Van alle kante was daar druk op ons: van buite onenigheid, van binne sorge.

6. Maar God wat die neerslagtiges opbeur, het ons ook opgebeur deur die koms van Titus,

7. en nie net deur sy koms nie, maar ook omdat julle hom opgebeur het. Hy het vertel van julle begeerte om ons te sien, en dat julle jammer is oor wat gebeur het en my nou ywerig verdedig. Dit alles het my nog blyer gemaak.

8. Al het ek julle ook deur my brief hartseer gemaak, is ek nou nie daaroor jammer nie. Miskien was ek tog jammer toe ek sien dat daardie brief julle hartseer gemaak het, al was dit net vir 'n kort rukkie.

9. Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. Ons het julle dus in geen opsig benadeel nie,

10. want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood.

11. Kyk net wat die ervaring van droefheid volgens die wil van God aan julle gedoen het. Nou is daar by julle erns; meer nog, daar is verantwoording, verontwaardiging, ontsag, verlange, ywer en bestraffing van die kwaad. In elke opsig het julle bewys dat julle in hierdie saak onskuldig is.

12. Dus, al het ek so aan julle geskrywe, was dit nie omdat iemand onreg gepleeg of onreg gely het nie. Inteendeel, ek wou hê dat julle voor God tot die besef moes kom van hoeveel julle vir ons omgee.

13. Juis daarom is ons nou so bly.Ons is nie net bemoedig nie, maar ook besonder bly dat Titus so gelukkig is: julle almal het hom gemoedsrus gegee.

14. Ek het by hom 'n bietjie met julle gespog, en julle het my nie teleurgestel nie. Soos ons altyd die waarheid met julle gepraat het, so blyk dit nou dat dit ook die waarheid was toe ons by Titus met julle gespog het.

15. En sy toegeneentheid teenoor julle word al sterker as hy daaraan dink hoe julle almal gehoorsaam was en hoe julle hom met eerbied en ontsag ontvang het.

16. Ek is baie bly dat ek in elke opsig op julle kan reken.