Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemía 9:18-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Selfs toe hulle ’n gegote kalf vir hulle gemaak en gesê het: Dit is jou gode wat jou uit Egipte laat optrek het! — en hulle groot, afskuwelike dinge gedoen het,

19. het U in u grote barmhartigheid hulle tog nie verlaat in die woestyn nie; die wolkkolom het nie bedags van hulle gewyk om hulle op die pad te lei nie, en die vuurkolom ook nie snags om vir hulle die pad te verlig waar hulle langs moes trek nie.

20. En u goeie Gees het U gegee om hulle te onderrig, en u manna het U nie van hulle mond teruggehou nie en aan hulle water gegee vir hulle dors.

21. En veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; hulle het nie gebrek gehad nie; hulle klere het nie verslyt en hulle voete nie geswel nie.

22. En U het aan hulle koninkryke en volke gegee en dié volgens bepaalde grense verdeel; en hulle het die land van Sihon, ja, die land van die koning van Hesbon, en die land van Og, die koning van Basan, in besit geneem.

23. En U het hulle kinders vermenigvuldig soos die sterre aan die hemel en hulle in die land ingebring waarvan U aan hulle vaders gesê het dat hulle sou ingaan om dit in besit te neem.

24. En die kinders het ingegaan en die land in besit geneem, en U het die inwoners van die land, die Kanaäniete, voor hulle onderwerp en dié in hulle hand gegee, hulle konings sowel as die volke van die land, om met hulle te handel soos hulle dit goedvind.

25. En hulle het versterkte stede en ’n vet land ingeneem, en huise in besit geneem vol allerhande goeie dinge, uitgekapte putte, wingerde en olyfbome en vrugtebome in menigte, en hulle het geëet en versadig en vet geword en weelderig gelewe deur u grote goedheid.

26. Maar hulle het wederstrewig en opstandig geword teen U en u wet agter hulle rug gewerp; en u profete wat hulle gewaarsku het, om hulle na U terug te bring, het hulle gedood en groot, afskuwelike dinge gedoen.

27. Daarom het U hulle oorgegee in die hand van hulle teëstanders, dat dié hulle in benoudheid sou bring. Maar wanneer hulle in die tyd van hulle benoudheid U aangeroep het, het Ú uit die hemel gehoor en na u grote barmhartigheid aan hulle verlossers gegee, dat dié hulle uit die hand van hul teëstanders kon verlos.

28. Maar sodra hulle rus gehad het, het hulle weer kwaad gedoen voor u aangesig, en U het hulle oorgelewer in die hand van hul vyande, dat dié oor hulle sou heers; as hulle U dan weer aanroep, het U uit die hemel gehoor en hulle na u barmhartigheid baiekeer gered.

29. En U het hulle gewaarsku om hulle na u wet terug te bring, maar hulle het vermetel gehandel en nie geluister na u gebooie nie, en teen u verordeninge, daarteen het hulle gesondig, waarvan geld dat ’n mens dit moet doen, dat hy daardeur kan lewe; en hulle het ’n wederstrewige skouer gegee en hulle nek verhard en nie geluister nie.

30. En U was baie jare lankmoedig oor hulle, en U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete; maar hulle het geen gehoor gegee nie. Daarom het U hulle oorgegee in die hand van die volke van die lande.

31. Maar in u grote barmhartigheid het U hulle nie volkome vernietig en hulle nie verlaat nie, want U is ’n genadige en barmhartige God.

Lees volledige hoofstuk Nehemía 9