Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 8:6-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. En Moses het Aäron en sy seuns laat nader kom en hulle met water gewas.

7. Daarop het hy hom die rok aangetrek en hom met die gordel gegord en hom die mantel aangetrek; ook het hy hom die skouerkleed aangetrek en hom gegord met die band van die skouerkleed en daarmee hom die skouerkleed omgebind.

8. Verder het hy hom die borstas aangeheg en in die borstas die Urim en die Tummim gesit.

9. En hy het die tulband op sy hoof gesit en aan die tulband, aan die voorkant, die goue plaat, die heilige kroon, bevestig, soos die Here Moses beveel het.

10. Toe het Moses die salfolie geneem en die tabernakel en alles wat daarin was, gesalf en dit geheilig.

11. En hy het daarvan sewe maal op die altaar gesprinkel en die altaar gesalf en al sy gereedskap, met die waskom en sy voetstuk, om dit te heilig.

12. Daarna het hy van die salfolie op die hoof van Aäron gegiet en hom gesalf om hom te heilig.

13. Ook het Moses die seuns van Aäron laat nader kom en hulle die rokke aangetrek en hulle gegord met ’n gordel en hulle die musse omgebind soos die Here Moses beveel het.

14. Daarop het hy die sondofferbul laat aankom, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die sondofferbul gelê.

15. En Moses het dit geslag en die bloed geneem en daarvan met sy vinger rondom aan die horings van die altaar gestryk en die altaar ontsondig; maar die orige bloed het hy aan die onderkant van die altaar uitgegooi. So het hy dit dan geheilig deur daar versoening voor te doen.

16. Verder het hy al die vet wat aan die binnegoed was en die lap aan die lewer en die twee niere en hulle vet geneem, en Moses het dit op die altaar aan die brand gesteek.

17. Maar die bul met sy vel en sy vleis en sy mis het hy buitekant die laer met vuur verbrand, soos die Here Moses beveel het.

18. Daarop het hy die brandofferram laat aankom, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gelê.

19. En Moses het dit geslag en die bloed rondom teen die altaar uitgegooi.

20. Hy het ook die ram in sy stukke verdeel, en Moses het die kop en die stukke en die vet aan die brand gesteek;

21. maar die binnegoed en die pote het hy met water gewas, en Moses het die hele ram op die altaar aan die brand gesteek; dit was ’n brandoffer as lieflike geur, ’n vuuroffer was dit aan die Here, soos die Here Moses beveel het.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 8