Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 19:5-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. en hy wat saam met sy naaste in die bos gaan om hout te kap en sy hand swaai met die byl om die boom af te kap, en die yster glip van die steel af en tref sy naaste, sodat hy sterwe — hy moet in een van hierdie stede vlug om in die lewe te bly;

6. sodat die bloedwreker hom wat ’n doodslag begaan het, nie agtervolg as sy hart verhit is en hom inhaal — omdat die pad lank is — en hom doodslaan nie, terwyl hy die dood nie verdien het nie, omdat hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie.

7. Daarom gee ek jou bevel en sê: Drie stede moet jy vir jou afsonder.

8. En as die Here jou God jou grondgebied uitbrei, soos Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het, en jou die hele land gee wat Hy beloof het om aan jou vaders te gee

9. — as jy sorgvuldig al hierdie gebooie hou wat ek jou vandag beveel om dit te doen, om die Here jou God lief te hê en altyd in sy weë te wandel — dan moet jy vir jou nog drie stede by hierdie drie byvoeg,

10. sodat geen onskuldige bloed vergiet word binne-in jou land wat die Here jou God jou as erfenis sal gee, en bloedskuld op jou kom nie.

11. Maar as iemand sy naaste vyandig is en hom voorlê en teen hom opstaan en hom lewensgevaarlik slaan, sodat hy sterwe, en hy in een van hierdie stede vlug,

12. dan moet die oudstes van sy stad stuur en hom daarvandaan laat haal, en hulle moet hom in die hand van die bloedwreker oorgee, dat hy kan sterwe.

13. Jou oog mag hom nie verskoon nie, maar jy moet die onskuldige bloed uit Israel wegdoen, dat dit met jou goed kan gaan.

14. JOU naaste se grenslyn, deur die voorvaders getrek in jou erfdeel wat jy sal erwe in die land wat die Here jou God jou sal gee om dit in besit te neem, mag jy nie verlê nie.

15. Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ’n saak van krag wees.

16. As ’n kwaadwillige getuie teen iemand optree om van ’n oortreding teen hom te getuig,

17. dan moet die twee manne wat die regsaak het, gaan staan voor die aangesig van die Here, voor die priesters en die regters wat daar in dié dae sal wees.

18. En die regters moet terdeë ondersoek doen, en is die getuie ’n valse getuie, het hy vals teen sy broer getuig,

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 19