Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 21:8-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Toe neem die koning die twee seuns van Rispa, die dogter van Aja, wat sy vir Saul gebaar het, Armóni en Mefibóset, en die vyf seuns van Merab, die dogter van Saul, wat sy vir Ádriël, die seun van Barsíllai, die Meholatiet, gebaar het;

9. en hy het hulle oorgegee in die hand van die Gibeoniete, wat hulle opgehang het op die berg voor die aangesig van die Here, sodat al sewe tesame omgekom het; en hulle is gedood in die eerste dae van die oes, in die begin van die gars-oes.

10. En Rispa, die dogter van Aja, het ’n sak geneem en dit vir haar oopgespan op die rots, van die begin van die oes af totdat daar water uit die hemel op hulle gegiet het, en sy het die voëls van die hemel oordag nie toegelaat om op hulle te gaan sit nie, en ook nie die diere van die veld in die nag nie.

11. Toe aan Dawid meegedeel is wat Rispa, die dogter van Aja, die byvrou van Saul, gedoen het,

12. het Dawid gegaan en die bene van Saul en die bene van sy seun Jónatan van die burgers van Jabes in Gílead gaan haal, wat dit van die plein van Bet-San gesteel het, waar die Filistyne hulle opgehang het op die dag toe die Filistyne Saul op Gilbóa verslaan het.

13. En hy het die bene van Saul en die bene van sy seun Jónatan daarvandaan weggebring. Hulle het ook die bene van die wat opgehang is, versamel,

14. en die bene van Saul en van sy seun Jónatan in die land Benjamin, in Sela, in die graf van sy vader Kis begrawe; en hulle het alles gedoen volgens die bevel van die koning. En daarna het God Hom oor die land ontferm.

15. EN toe die Filistyne weer oorlog gehad het met Israel, het Dawid afgetrek, en sy dienaars saam met hom, en hulle het teen die Filistyne geveg, en Dawid het al moeg geword.

16. En Jisbi-Benob wat uit die kinders van die Refaïete was — die gewig van sy spies was driehonderd sikkels koper in gewig, en hy was omgord met ’n nuwe swaard — het gedink om Dawid te verslaan.

17. Maar Abísai, die seun van Serúja, het hom gehelp en die Filistyn verslaan en hom gedood. Toe het die manne van Dawid hom besweer en gesê: U mag nie meer saam met ons uittrek na die geveg nie, dat u die lamp van Israel nie uitblus nie.

18. En daarna was daar weer oorlog met die Filistyne in Gob. Toe het Síbbegai, die Husatiet, Saf, uit die kinders van die Refaïete, verslaan.

19. En daar was weer oorlog met die Filistyne in Gob; en Élhanan, die seun van Jáäre-Orgim uit Betlehem, het Góliat, die Gittiet, wie se spiessteel soos ’n wewersbalk was, verslaan.

20. En daar was weer oorlog in Gat; en daar was ’n baie lang man, met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, vier-en-twintig in getal, en hy was ook ’n afstammeling van die Refaïete.

21. En hy het Israel gehoon, maar Jónatan, die seun van Símea, die broer van Dawid, het hom verslaan.

22. Hierdie vier was afstammelinge van die Refaïete in Gat, en hulle het geval deur die hand van Dawid en deur die hand van sy dienaars.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 21