Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 32:16-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. Sy dienaars het nog meer teen die Here God gespreek en teen sy kneg Jehiskía.

17. Hy het ook ’n brief geskrywe om die Here, die God van Israel, te smaad en teen Hom te spreek deur te sê: Soos die gode van die nasies van die lande wat hulle volk uit my hand nie gered het nie, so sal die God van Jehiskía sy volk uit my hand nie red nie.

18. En hulle het hardop in die Joodse taal geroep na die manskappe van Jerusalem wat op die muur was, om dié bevrees en verskrik te maak, sodat hulle die stad kon inneem.

19. En hulle het oor die God van Jerusalem gespreek soos oor die gode van die volke van die aarde — ’n maaksel van mensehande.

20. Maar toe koning Jehiskía en die profeet Jesaja, die seun van Amos, hieroor gebid en na die hemel geroep het,

21. stuur die Here ’n engel, en dié het al die dapper helde en bevelhebbers en owerstes in die laer van die koning van Assirië verdelg, sodat hy met ’n beskaamde aangesig na sy land teruggegaan het; en toe hy in die huis van sy god kom, het die wat uit sy eie liggaam voortgekom het, hom daar met die swaard neergeslaan.

22. En die Here het Jehiskía en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sánherib, die koning van Assirië, en uit die hand van almal, en hulle rondom tot rus gebring.

23. En baie het geskenke aan die Here na Jerusalem gebring en kosbare geskenke aan Jehiskía, die koning van Juda, sodat hy daarna in die oë van al die nasies hoog gestaan het.

24. IN dié dae het Jehiskía dodelik siek geword, maar hy het tot die Here gebid, en Hy het met hom gespreek en hom ’n wonderteken gegee.

25. Maar Jehiskía het die weldaad wat aan hom bewys is, nie vergeld nie; want sy hart het hoogmoedig geword. Daarom was daar ’n toorn oor hom en oor Juda en Jerusalem.

26. Maar Jehiskía het hom verootmoedig in die hoogmoedigheid van sy hart, hy en die inwoners van Jerusalem, sodat die toorn van die Here nie oor hulle gekom het in die dae van Jehiskía nie.

27. En Jehiskía het buitengewoon baie rykdom en eer besit en vir hom skatkamers gemaak vir silwer en goud en edelgesteentes en vir speserye en skilde en allerhande kosbare voorwerpe;

28. ook pakhuise vir die opbrings van koring en mos en olie; en stalle vir allerhande soorte vee en krale vir die troppe vee.

29. Ook het hy vir hom stede aangelê; verder was daar besittings van kleinvee en beeste in menigte, want God het hom baie goed gegee.

30. Dieselfde Jehiskía het ook die boonste uitloop van die water van die Gihon toegestop en dit gelei na onder toe, westelik na die stad van Dawid. En Jehiskía was voorspoedig in al sy werk.

31. So ook in die geval van die gesante van die vorste van Babel — wat na hom gestuur het om ondersoek te doen na die wonderteken wat in die land gebeur het — het God hom net verlaat om hom op die proef te stel, om te weet alles wat in sy hart was.

32. En die verdere geskiedenis van Jehiskía en sy vrome dade, kyk, dit is beskrywe in die Gesig van die profeet Jesaja, die seun van Amos, in die Boek van die konings van Juda en Israel.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 32