Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 30:14-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. En hulle het hul gereedgemaak en die altare verwyder wat in Jerusalem was; ook al die wierookaltare het hulle verwyder en in die spruit Kidron gegooi.

15. Toe het hulle die pasga geslag op die veertiende van die tweede maand; en die priesters en die Leviete het hulle geskaam en hulle geheilig en die brandoffers in die huis van die Here gebring.

16. En hulle het op hul plek gaan staan, ooreenkomstig hulle verordening volgens die wet van Moses, die man van God, onderwyl die priesters besig was om die bloed uit te gooi wat hulle uit die hand van die Leviete geneem het;

17. want daar was baie in die vergadering wat hulle nie geheilig het nie, daarom moes die Leviete die paasoffers slag vir elkeen wat nie rein was nie, om hulle aan die Here te heilig.

18. Want die meerderheid van die volk, ’n menigte uit Efraim en Manasse, Íssaskar en Sébulon, het hulle nie gereinig nie, maar die pasga geëet soos dit nie voorgeskrywe was nie. Maar Jehiskía het vir hulle gebid en gesê: Mag die Here wat goed is, versoening doen

19. vir elkeen wat sy hart daarop gerig het om God die Here, die God van sy vaders, te soek, al was dit nie volgens die reinheid van die heiligdom nie.

20. En die Here het Jehiskía verhoor en die volk genees.

21. So het dan die kinders van Israel wat in Jerusalem aanwesig was, die fees van die ongesuurde brode sewe dae lank met groot blydskap gevier, terwyl die Leviete en die priesters die Here dag vir dag geprys het met kragtige instrumente tot eer van die Here.

22. En Jehiskía het na die hart van al die Leviete gespreek wat deeglik kennis geopenbaar het in die saak van die Here; en hulle het die feesoffer sewe dae lank geëet, terwyl hulle dankoffers geslag en die Here, die God van hulle vaders, geloof het.

23. En toe die hele vergadering besluit om nog sewe dae fees te hou, het hulle dit met blydskap sewe dae lank gevier,

24. want Hiskía, die koning van Juda, het aan die vergadering duisend bulle en seweduisend stuks kleinvee afgegee, en die owerstes het aan die vergadering duisend bulle en tienduisend stuks kleinvee afgegee; en die priesters het hulleself in menigte geheilig.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 30