Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 23:12-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. En toe Atália die stem van die mense hoor wat toestroom en die koning toejuig, het sy na die volk in die huis van die Here gekom;

13. en toe sy die koning sien staan op sy verhoog by die ingang en die owerstes en die trompetblasers by die koning en dat die hele volk van die land bly is en op die trompette blaas, en die sangers met die musiekinstrumente, terwyl hulle die teken gee om lof te sing, skeur Atália haar klere en roep uit: Verraad, verraad!

14. Maar die priester Jójada het die owerstes oor honderd, die aanvoerders van die leër, uitgebring en aan hulle gesê: Neem haar weg tussen die rye deur; en die wat agter haar aankom, moet met die swaard gedood word; want die priester het gesê: Julle mag haar nie in die huis van die Here doodmaak nie.

15. En hulle het die hande aan haar geslaan, en sy het by die ingang van die Perdepoort in die huis van die koning gekom, en daar het hulle haar gedood.

16. En Jójada het ’n verbond gesluit tussen homself en die hele volk en die koning, dat hulle ’n volk van die Here sou wees.

17. Daarna het die hele volk in die tempel van Baäl ingegaan en dit afgebreek en sy altare en sy beelde stukkend geslaan, en Mattan, die priester van Baäl, voor die altare gedood.

18. Verder het Jójada wagte aangestel in die huis van die Here onder leiding van die Levitiese priesters wat Dawid ingedeel het vir die huis van die Here om die brandoffers van die Here te bring, soos geskrywe is in die wet van Moses, met blydskap en gesang volgens die instelling van Dawid.

19. En hy het die poortwagters aangestel by die poorte van die huis van die Here, sodat niemand kon inkom wat in enige opsig onrein was nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 23