Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 23:10-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. en hy het al die manskappe opgestel — elkeen met sy wapen in sy hand, van die regterkant van die huis af tot by die linkerkant van die huis, na die altaar en na die huis toe, by die koning rondom.

11. Daarna het hulle die seun van die koning uitgebring en aan hom die kroon en die Getuienis oorgegee; en hulle het hom koning gemaak; en Jójada en sy seuns het hom gesalf en gesê: Mag die koning lewe!

12. En toe Atália die stem van die mense hoor wat toestroom en die koning toejuig, het sy na die volk in die huis van die Here gekom;

13. en toe sy die koning sien staan op sy verhoog by die ingang en die owerstes en die trompetblasers by die koning en dat die hele volk van die land bly is en op die trompette blaas, en die sangers met die musiekinstrumente, terwyl hulle die teken gee om lof te sing, skeur Atália haar klere en roep uit: Verraad, verraad!

14. Maar die priester Jójada het die owerstes oor honderd, die aanvoerders van die leër, uitgebring en aan hulle gesê: Neem haar weg tussen die rye deur; en die wat agter haar aankom, moet met die swaard gedood word; want die priester het gesê: Julle mag haar nie in die huis van die Here doodmaak nie.

15. En hulle het die hande aan haar geslaan, en sy het by die ingang van die Perdepoort in die huis van die koning gekom, en daar het hulle haar gedood.

16. En Jójada het ’n verbond gesluit tussen homself en die hele volk en die koning, dat hulle ’n volk van die Here sou wees.

17. Daarna het die hele volk in die tempel van Baäl ingegaan en dit afgebreek en sy altare en sy beelde stukkend geslaan, en Mattan, die priester van Baäl, voor die altare gedood.

18. Verder het Jójada wagte aangestel in die huis van die Here onder leiding van die Levitiese priesters wat Dawid ingedeel het vir die huis van die Here om die brandoffers van die Here te bring, soos geskrywe is in die wet van Moses, met blydskap en gesang volgens die instelling van Dawid.

19. En hy het die poortwagters aangestel by die poorte van die huis van die Here, sodat niemand kon inkom wat in enige opsig onrein was nie.

20. En hy het die owerstes oor honderd geneem en die vername manne en die wat oor die volk geheers het, en die hele volk van die land, en hy het die koning uit die huis van die Here afgebring; en hulle het deur die Boonste Poort in die huis van die koning gekom en die koning op die koningstroon laat sit.

21. En die hele volk van die land was bly, en die stad was rustig. Maar hulle het Atália met die swaard gedood.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 23