Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:23-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

23. maar in die agttiende jaar van koning Josía is hierdie pasga vir die Here in Jerusalem gehou.

24. Ook het Josía die dodebesweerders en die waarsêers en die huisgode en die drekgode en al die verfoeisels wat in die land van Juda en in Jerusalem te sien was, uitgeroei, om die woorde van die wet te bevestig wat geskrywe is in die boek wat die priester Hilkía in die huis van die Here gekry het.

25. En voor hom was daar geen koning soos hy nie wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en met sy hele siel en met al sy krag volgens die hele wet van Moses, en ná hom het nie een soos hy opgestaan nie.

26. Nogtans het die Here Hom nie afgewend van sy groot toorngloed waarmee sy toorn teen Juda ontvlam het oor al die terginge waarmee Manasse Hom geterg het nie.

27. En die Here het gesê: Ek sal Juda ook van my aangesig verwyder soos Ek Israel verwyder het; en Ek sal hierdie stad Jerusalem verwerp wat Ek verkies het, en die huis waarvan Ek gesê het: My Naam sal daar wees.

28. En die verdere geskiedenis van Josía en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?

29. In sy dae het Farao Nego, die koning van Egipte, teen die koning van Assirië opgetrek na die Eufraatrivier; en koning Josía het hom tegemoetgetrek, maar dié het hom gedood by Megíddo net toe hy hom sien.

30. En sy dienaars het hom dood vervoer van Megíddo af en hom in Jerusalem gebring en hom in sy graf begrawe; en die volk van die land het Jóahas, die seun van Josía, geneem en hom gesalf en hom in die plek van sy vader koning gemaak.

31. DRIE-EN-TWINTIG jaar was Jóahas oud toe hy koning geword het, en drie maande het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Hamútal, die dogter van Jeremia, uit Libna.

32. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here net soos sy vaders gedoen het.

33. Maar Farao Nego het hom in Ribla, in die land Hamat, gevange gehou, dat hy in Jerusalem nie sou regeer nie, en die land ’n boete opgelê van honderd talente silwer en ’n talent goud.

34. En Farao Nego het Éljakim, die seun van Josía, koning gemaak in die plek van sy vader Josía en sy naam verander in Jójakim, maar Jóahas saamgeneem. So het hy dan in Egipte gekom en daar gesterwe.

35. En die silwer en die goud het Jójakim aan Farao gelewer; maar hy het die grond gewaardeer om die geld volgens die bevel van Farao te lewer; volgens wat elkeen geskat is, het hy die silwer en die goud van die bevolking van die land ingevorder om aan Farao Nego te lewer.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23