Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:15-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En Hiskía het al die silwer gegee wat in die huis van die Here te vinde was en in die skatkamers van die huis van die koning.

16. In dieselfde tyd het Hiskía die goud van die deure in die tempel van die Here afgesny en van die deurposte wat Hiskía, die koning van Juda, oorgetrek het, en dit aan die koning van Assirië gegee.

17. Toe stuur die koning van Assirië die tartan en die rábsaris en die rábsake uit Lagis met ’n swaar leër na koning Hiskía na Jerusalem toe; en hulle het opgetrek en by Jerusalem gekom. En toe hulle optrek en aankom, het hulle gaan staan by die watervoor van die Boonste Dam wat aan die grootpad van die Bleikveld lê.

18. En hulle het na die koning geroep. Daarop gaan Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, uit na hulle toe.

19. En die rábsake sê vir hulle: Sê tog vir Hiskía: So spreek die groot koning, die koning van Assirië! Wat is dit vir ’n vertroue wat jy koester?

20. Dink jy dat net lippetaal raad en dapperheid vir die oorlog is? Op wie vertrou jy nou, dat jy teen my in opstand kom?

21. Kyk nou, jy vertrou op dié geknakte rietstok, op Egipte, wat, as iemand daarop leun, in sy hand ingaan en dit deurboor; so is Farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou.

22. Maar as julle vir my sê: Ons vertrou op die Here onse God — is dit nie Hy wie se hoogtes en wie se altare Hiskía verwyder het nie deur aan Juda en Jerusalem te sê: Voor hierdie altaar in Jerusalem moet julle buig?

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18