Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 11:2-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Gister sowel as eergister, selfs toe Saul koning was, het u Israel uit- en ingelei; en die Here u God het aan u gesê: Jý moet my volk Israel oppas, en jý moet ’n vors wees oor my volk Israel.

3. So het dan al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom, en Dawid het met hulle ’n verbond gesluit in Hebron voor die aangesig van die Here, en hulle het Dawid as koning oor Israel gesalf volgens die woord van die Here deur die diens van Samuel.

4. En Dawid en die hele Israel het getrek na Jerusalem, dit is Jebus; en daar was die Jebusiete die bewoners van die land.

5. En die inwoners van Jebus het vir Dawid gesê: Jy sal hier nie inkom nie. Maar Dawid het die bergvesting Sion ingeneem, dit is die stad van Dawid.

6. En Dawid het gesê: Elkeen wat eerste die Jebusiet verslaan, sal ’n hoof en ’n owerste word. Toe het Joab, die seun van Serúja, die eerste opgeklim en ’n hoof geword.

7. En Dawid het in die bergvesting gaan woon; daarom noem hulle dit die stad van Dawid.

8. En hy het die stad rondom opgebou van Millo af tot by die omtrek; en Joab het die orige deel van die stad herstel.

9. En Dawid het gedurigdeur groter geword, en die Here van die leërskare was met hom.

10. EN dít was die hoofde van die helde van Dawid wat hom kragtig bygestaan het in sy koningskap saam met die hele Israel om hom volgens die woord van die Here koning te maak oor Israel.

11. En dít is die getal van die helde van Dawid: Jasóbeam, die seun van Hagmóni, die hoof van die dertig; hy het sy spies geswaai oor driehonderd wat op een keer gesneuwel het.

12. En ná hom was Eleásar, die seun van Dodo, die Ahohiet; hy was onder die drie helde.

13. Hy was saam met Dawid by Pas-Dámmim toe die Filistyne daar bymekaar was om te veg; en daar was ’n stuk land vol gars, en die volk het vir die Filistyne gevlug.

14. Maar hy het hom in die middel van die stuk land opgestel en dit afgeneem en die Filistyne verslaan, sodat die Here ’n groot oorwinning bewerk het.

15. En drie van die dertig hoofde het afgetrek na die rots, na Dawid, na die spelonk van Adúllam terwyl die laer van die Filistyne in die dal Refáim gestaan het.

16. En Dawid was toe in die bergvesting; en ’n besetting van die Filistyne was toe in Betlehem.

17. En Dawid het ’n begeerte voel opkom en gesê: Wie sal vir my water gee om te drink uit die put van Betlehem wat by die poort is?

18. Toe het die drie deur die laer van die Filistyne gebreek en water geskep uit die put van Betlehem wat by die poort was, en dit gedra en na Dawid gebring; maar Dawid wou dit nie drink nie en het dit voor die Here uitgegiet

19. en gesê: Mag my God my bewaar, dat ek dit sou doen! Sou ek die bloed van hierdie manne drink? Met lewensgevaar, ja, met lewensgevaar het hulle dit gebring! En hy wou dit nie drink nie. Dit het die drie helde gedoen.

20. En Abísai, die broer van Joab, hy was hoof van die drie, en hy het sy spies geswaai oor driehonderd wat gesneuwel het, en ’n naam gehad onder die drie.

21. Uit die drie was hy onder die ander twee geëerd, sodat hy hulle owerste geword het; maar tot by die eerste drie het hy nie gekom nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 11