Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:51-65 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

51. Want hulle is u volk en u erfdeel wat U uit Egipte uitgelei het uit die yster-smeltoond.

52. Mag u oë dan oop wees vir die smeking van u kneg en vir die smeking van u volk Israel, om na hulle te luister so dikwels as hulle U aanroep.

53. Want U het hulle vir U as erfdeel afgesonder uit al die volke van die aarde, soos U deur die diens van u kneg Moses gespreek het toe U, Here Here, ons vaders uit Egipte uitgelei het.

54. Net toe Salomo gereed was om hierdie hele gebed en smeking tot die Here te bid, het hy voor die altaar van die Here opgestaan uit sy knielende houding, met sy hande na die hemel uitgebrei;

55. en hy het gaan staan en die hele vergadering van Israel hardop geseën en gesê:

56. Geloofd sy die Here wat aan sy volk Israel rus gegee het net soos Hy gespreek het: geen enkele woord het onvervuld gebly van al die goeie woorde wat Hy deur die diens van sy kneg Moses gespreek het nie.

57. Mag die Here onse God met ons wees soos Hy met ons vaders gewees het; mag Hy ons nie verlaat en ons nie verwerp nie —

58. deur ons hart tot Hom te neig om in al sy weë te wandel en om sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge wat Hy ons vaders beveel het, te onderhou.

59. En mag hierdie woorde van my, waarmee ek voor die aangesig van die Here gesmeek het, dag en nag naby die Here onse God wees, sodat Hy reg kan verskaf aan sy kneg en aan sy volk Israel na die eis van elke dag;

60. sodat al die volke van die aarde kan weet dat die Here God is, niemand meer nie.

61. Laat julle hart dan volkome met die Here onse God wees om te wandel in sy insettinge en sy gebooie te onderhou, soos vandag.

62. En die koning, en die hele Israel saam met hom, was besig om slagoffers voor die aangesig van die Here te slag.

63. Salomo het naamlik as die dankoffer wat hy aan die Here gebring het, twee-en-twintigduisend beeste en honderd-en-twintigduisend stuks kleinvee geslag; so het hulle dan die huis van die Here ingewy, die koning en al die kinders van Israel.

64. Op dié dag het die koning die middel van die voorhof geheilig wat voor die huis van die Here was; want daar het hy die brandoffer en die spysoffer en die vetstukke van die dankoffers berei, omdat die koperaltaar voor die aangesig van die Here te klein was om die brandoffer en die spysoffer en die vetstukke van die dankoffers te bevat.

65. So het Salomo dan in dié tyd die fees gehou en die hele Israel saam met hom, ’n groot vergadering van die ingang na Hamat af tot by die spruit van Egipte, voor die aangesig van die Here onse God, sewe dae en sewe dae, veertien dae lank.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8