Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:29-43 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

29. En hulle was sewe dae lank teenoor mekaar gelaer; maar op die sewende dag het die geveg begin, en die kinders van Israel het van die Arameërs honderdduisend voetgangers op een dag verslaan.

30. En die wat oor was, het na Afek, na die stad gevlug, en die muur het op die sewen-en-twintigduisend man geval wat oor was. Bénhadad, wat ook die stad ingegaan het, het van kamer tot kamer gevlug.

31. Toe sê sy dienaars vir hom: Kyk tog, ons het gehoor dat die konings van die huis van Israel genadige konings is; laat ons tog rouklere om ons heupe bind en bande om ons hoofde en uitgaan na die koning van Israel; moontlik sal hy u in die lewe behou.

32. Toe het hulle rouklere om hul heupe vasgegord en bande om hul hoofde en na die koning van Israel gekom en gesê: U dienaar Bénhadad sê: Laat my tog lewe! En hy antwoord: Lewe hy dan nog? Hy is my broer.

33. En die manne het hulle dit dadelik toegeëien as ’n gunstige voorteken van sy kant en gesê: Bénhadad is u broer! Daarop sê hy: Gaan haal hom. En Bénhadad het uitgekom na hom, en hy het hom op die wa laat klim.

34. En Bénhadad sê vir hom: Die stede wat my vader van u vader afgeneem het, sal ek teruggee, en u kan vir u winkelstrate aanlê in Damaskus soos my vader in Samaría aangelê het. En ek, sê Agab, sal u op hierdie verbond laat gaan. Hy het toe ’n verbond met hom gesluit en hom laat gaan.

35. Daarna het ’n sekere man uit die profete-seuns deur die woord van die Here aan sy maat gesê: Slaan my tog! Maar die man het geweier om hom te slaan.

36. Toe sê hy vir hom: Omdat jy nie na die stem van die Here geluister het nie, kyk, as jy van my af weggaan, sal ’n leeu jou doodmaak. En toe hy van hom af weggaan, het ’n leeu hom gekry en hom gedood.

37. Daarna het hy ’n ander man gekry en gesê: Slaan my tog! En die man het hom so geslaan, dat hy hom gewond het.

38. Toe vertrek die profeet en gaan die koning op die pad voorstaan; daarby maak hy homself onkenbaar met ’n verband oor sy oë.

39. En terwyl die koning verbygaan, roep hy na die koning en sê: U dienaar het uitgetrek in die geveg; en daar kom iemand eenkant toe en bring ’n man na my en sê: Bewaak hierdie man; as hy ooit gemis word, sal jou lewe in die plek van sy lewe wees, of jy sal ’n talent silwer moet betaal.

40. Maar onderwyl u dienaar hier en daar besig was, het hy verdwyn. Toe sê die koning van Israel vir hom: So is jou vonnis: jy het dit self bepaal.

41. Daarop neem hy gou die verband van sy oë af weg en die koning van Israel herken hom, dat hy een van die profete was.

42. En hy sê vir hom: So spreek die Here: Omdat jy die man wat deur my banvloek getref was, uit die hand laat gaan het, daarom sal jou siel in die plek van sy siel en jou volk in die plek van sy volk wees.

43. En die koning van Israel het na sy huis getrek, verbitterd en toornig, en hy het in Samaría aangekom.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20