Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:12-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. DAARNA het Salomo op die troon van sy vader Dawid gaan sit, en sy koningskap is goed bevestig.

13. Toe kom Adónia, die seun van Haggit, na Bátseba, die moeder van Salomo, en sy vra: Is jou koms vrede? En hy antwoord: Vrede.

14. Verder sê hy: Ek het ’n woord vir u. En sy antwoord: Spreek.

15. En hy sê: Ú weet dat die koningskap myne was en die hele Israel sy aangesig op my gerig het, dat ek koning sou word; maar die koningskap het oorgegaan en my broer s’n geword, want deur die Here was dit vir hom bestem.

16. En nou doen ek een versoek aan u; wys my nie af nie. En sy antwoord hom: Spreek.

17. Toe sê hy: Spreek tog met koning Salomo, want hy sal u nie afwys nie, dat hy Abísag, die Sunamitiese, aan my as vrou moet gee.

18. En Bátseba sê: Goed, ék sal met die koning oor jou spreek.

19. Toe Bátseba dan ingaan na koning Salomo om met hom oor Adónia te spreek, het die koning opgestaan om haar te ontmoet en voor haar gebuig; daarna het hy op sy troon gaan sit en vir die moeder van die koning ’n stoel laat neersit, en sy het aan sy regterhand plaas geneem.

20. Toe sê sy: Een klein versoek doen ek aan u; wys my nie af nie. En die koning antwoord haar: Vra, my moeder, want ek sal u nie afwys nie.

21. En sy sê: Laat Abísag, die Sunamitiese, aan u broer Adónia as vrou gegee word.

22. Daarop antwoord koning Salomo en sê aan sy moeder: Maar waarom vra u Abísag, die Sunamitiese, vir Adónia? Vra ook die koningskap vir hom, want hy is my broer wat ouer is as ek, ja, vir hom en vir Ábjatar, die priester, en vir Joab, die seun van Serúja!

23. En koning Salomo het gesweer by die Here en gesê: Mag God so aan my doen en so daaraan toedoen — sekerlik, Adónia het hierdie woord ten koste van sy lewe gespreek.

24. En nou, so waar as die Here leef wat my bevestig het en my op die troon van my vader Dawid laat sit en vir my ’n huis gestig het volgens sy belofte — Adónia sal sekerlik vandag gedood word!

25. Daarop het koning Salomo gestuur deur die diens van Benája, die seun van Jójada; en dié het op hom aangeval, sodat hy gesterf het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2