Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 12:10-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, antwoord hom en sê: Só moet u hierdie volk antwoord wat met u gespreek en gesê het: U vader het ons juk swaar gemaak, maar maak u dit ligter oor ons — só moet u hulle antwoord: My pinkie is dikker as my vader se lendene.

11. Het my vader dan nou ’n swaar juk op julle gelaai — ék sal by julle juk nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig — ék sal julle met gésels tugtig.

12. Toe Jeróbeam en die hele volk dan by Rehábeam kom op die derde dag soos die koning gespreek en gesê het: Kom na my terug op die derde dag —

13. het die koning die volk ’n harde antwoord gegee: hy het die raad wat hom deur die oudstes gegee is, in die wind geslaan

14. en met hulle gespreek volgens die raad van die jongmanne en gesê: Het my vader julle juk swaar gemaak — ék sal by julle juk nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig — ék sal julle met gésels tugtig.

15. So het die koning dan nie na die volk geluister nie, want dit was ’n beskikking van die Here, sodat Hy sy woord sou vervul wat die Here gespreek het deur die diens van Ahía, die Siloniet, tot Jeróbeam, die seun van Nebat.

16. Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord en gesê: Watter aandeel het ons aan Dawid? en daar is geen erfdeel aan die seun van Ísai nie! Na julle tente toe, Israel! Kyk nou na jou eie huis, Dawid! Daarop het Israel na sy tente gegaan.

17. Maar oor die kinders van Israel wat in die stede van Juda gewoon het, oor hulle was Rehábeam koning.

18. Toe stuur koning Rehábeam Adóram wat oor die dwangarbeid was, maar die hele Israel het hom gestenig, sodat hy gesterf het; en koning Rehábeam het hom tot die uiterste toe geweer om op ’n wa te klim, om na Jerusalem te vlug.

19. So het die Israeliete dan van die huis van Dawid afvallig geword tot vandag toe.

20. Sodra die hele Israel gehoor het dat Jeróbeam terug was, het hulle hom na die vergadering laat roep en hom oor die hele Israel koning gemaak; niemand het die huis van Dawid gevolg nie, behalwe die stam van Juda alleen.

21. En toe Rehábeam in Jerusalem kom, het hy die hele huis van Juda en die stam van Benjamin, honderd-en-tagtigduisend strydbare jong manskappe, vergader om oorlog te voer teen die huis van Israel, om die koningskap vir Rehábeam, die seun van Salomo, terug te win.

22. Maar die woord van God het tot Semája, die man van God, gekom en gesê:

23. Spreek met Rehábeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die hele huis van Juda en Benjamin en die orige deel van die volk en sê:

24. So spreek die Here: Julle mag nie optrek en teen julle broers, die kinders van Israel, oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis; want van My het hierdie saak gekom. Hulle het toe geluister na die woord van die Here en weer teruggetrek volgens die woord van die Here.

25. En Jeróbeam het Sigem op die gebergte van Efraim gebou en daarin gewoon, en daarvandaan uitgetrek en Pnuel gebou.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 12