Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 3:14-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Die Israeliete was agtien jaar lank onderdane van Eglon, die Moabitiese koning.

15. Hulle het weer by die Here begin pleit om hulle te verlos. Hy het Ehud, die seun van Gera, gestuur om hulle te bevry. Hy was ’n Benjaminiet. Ehud was links. Die Israeliete het hom met hulle belasting na koning Eglon van Moab gestuur.

16. Ehud het vir hom ’n dolk gemaak van ’n halwe meter lank wat aan albei kante skerp was. Hy het dit onder sy klere weggesteek en dit aan sy regterkant vasgegespe.

17. Hy het die belasting by koning Eglon van Moab afgelewer. Eglon was ’n baie vet man.

18. Nadat Ehud die belasting afgegee het, het die koning die mense wat dit gedra het, weggestuur.

19. Ehud het by Die Beelde naby Gilgal omgedraai en vir die koning kom sê: “U Edele, ek het ’n geheime boodskap om vir u te gee.” Eglon sê toe vir hom: “Net ’n oomblik.” Hy het al sy amptenare wat om hom was, uitgestuur.

20. Ehud het nadergestaan aan die koning waar hy in sy private koel bovertrek gesit het. Ehud het vir hom gesê: “Ek het vir u ’n boodskap van God.” Die koning het van sy troon af opgestaan.

21. Ehud het toe met sy linkerhand die dolk van sy regterheup af uitgepluk en dit in Eglon se maag ingedryf.

Lees volledige hoofstuk Rigters 3