Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 19:12-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. “Nee,” sê hy vir hom. “Ons kan nie afdraai na ’n vreemde stad waarin daar nie Israeliete is nie. Kom ons gaan aan tot by Gibea.

13. Ons stoot aan om in Gibea of in Rama te gaan slaap.”

14. Hulle het deurgedruk. Die son was besig om onder te gaan toe hulle by Gibea in Benjamin aankom.

15. Hulle het afgedraai om in Gibea te gaan slaap. Hulle het op die stadsplein gaan afpak omdat niemand hulle genooi het om in sy huis te oornag nie.

16. ’n Ou man het daardie aand van sy werk in die veld af teruggekom. Hy was oorspronklik van die heuwelgebied van Efraim, maar het vir ’n tyd lank in Gibea, in die gebied van Benjamin, gebly.

17. Toe die ou man die reisigers op die stadsplein sien sit, vra hy hulle: “Van waar af kom julle en waarheen is julle op pad?”

18. Die Leviet antwoord die ou man: “Ons is op pad van Betlehem in Juda na ’n afgeleë deel in die heuwels van Efraim. Ek kom van daar af, maar ek het na die huis van die Here in Betlehem in Juda gegaan. Maar hier is niemand wat ons na hulle huis genooi het nie.

19. Ons het alles wat ons nodig het. Hier is voer vir die donkies, en genoeg kos en wyn vir ons almal.”

20. “Dis goed so,” sê die ou man vir hulle. “Sê maar as jy iets nodig het. Moet tog net nie vannag hier op die plein slaap nie.”

21. Die ou man het hulle saamgeneem na sy huis toe. Hulle het vir die donkies voer gegee. Hulle het ook eers hulle voete gewas, en toe saam geëet en gedrink.

22. Toe dit al gesellig begin gaan het, het ’n klomp skurke van die stad die huis omsingel. Hulle het teen die deur gehamer en vir die ou man aan wie die huis behoort het, geskreeu: “Bring uit daardie man wat in jou huis ingekom het. Ons wil seks met hom hê.”

23. Die ou man wie se huis dit was, het uitgegaan en met hulle gaan praat: “Nee tog, vriende. Moenie so iets leliks doen nie. Hierdie man is my gas wat by my tuis is. Moenie so iets skandeliks aanvang nie.

24. My dogter is nog ’n maagd. Ek sal haar en die man se byvrou vir julle bring. Maak met hulle wat julle wil, maar moenie so iets viesliks met hierdie man doen nie.”

25. Die mans wou nie na hom luister nie. Die Leviet gryp toe sy byvrou en stoot haar uit op straat. Hulle het haar dwarsdeur die nag verkrag tot die volgende oggend toe. Eers toe dit begin lig word, het hulle haar gelos.

26. Die vrou het met dagbreek teruggekom by die huis waarin haar man was. Sy het by die deur bly lê tot dit helder lig was.

27. Toe haar man die oggend opstaan om verder te reis en die huis se deur oopmaak, lê sy byvrou daar in die deur met haar hande op die drumpel.

28. Hy sê toe vir haar: “Staan op dat ons kan aangaan.” Sy het hom nie geantwoord nie. Hy het haar op ’n donkie getel en is met haar verder na sy huis toe.

29. Terug by die huis het hy ’n mes gevat en sy byvrou se liggaam in twaalf stukke opgesny. Hy het een stuk na elke stam in Israel gestuur.

Lees volledige hoofstuk Rigters 19