Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 16:3-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Simson het bly lê tot middernag en toe opgestaan. Hy het die deure van die stadspoort met kosyne en al uitgeruk en dit op sy skouers tot bo-op die kruin van die berg teenoor Hebron gedra.

4. ’n Ruk later het Simson op ’n vrou in die Sorekvallei verlief geraak. Haar naam was Delila.

5. Die leiers van die Filistyne het met haar gaan onderhandel: “Pols hom dat jy kan uitvind hoekom hy so sterk is. Vind uit hoe hy oorweldig en vasgebind kan word. Ons sal elkeen vir jou dertien kilogram silwer gee.”

6. Delila het toe vir Simson gevra: “Vertel my ’n bietjie waar jou groot krag vandaan kom. Hoe kan ’n mens die oorhand oor jou kry?”

7. Simson het haar geantwoord: “As hulle my vasbind met sewe vars boogsnare wat nog nie uitgedroog het nie, sal ek soos enige ander mens wees.”

8. Die leiers van die Filistyne het vir Delila sewe vars boogsnare gebring wat nog klam was. Sy het Simson daarmee vasgebind.

9. Daar het mans in een van die kamers van haar huis weggekruip. Sy sê toe vir hom: “Simson, die Filistyne het jou kom vang!” Hy het die boogsnare gebreek soos toue wat in ’n vlam brand. Niemand het geweet waar sy krag vandaan kom nie.

10. Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy speel met my. Jy het gelieg. Sê tog nou vir my waarmee kan ’n mens jou vasbind.”

11. Hy het vir haar gesê: “Ek sal so swak soos enige ander mens wees as ek stewig vasgebind word met nuwe toue wat nog vir niks anders gebruik is nie.”

12. Delila het nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind. Sy sê toe vir hom: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Daar het weer mans in een van haar kamers weggekruip. Simson het die toue wat om sy arms was, gebreek asof dit garingdrade was.

13. Delila het vir Simson gevra: “Wanneer gaan jy ophou om met my te mors? Jy lieg nog al die tyd vir my. Sê nou regtig vir my waarmee kan jy bedwing word.”Hy sê toe vir haar: “As jy sewe van my haarlokke in die materiaal op jou weefstoel inweef en met die dwarspen vassteek, sal ek so swak wees soos enige ander mens.”

14. Terwyl hy slaap, het sy so gemaak. Sy roep toe na hom en sê vir hom: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Hy het wakker geskrik en die materiaal met dwarspen en al uit die weefstoel geruk.

15. Sy kerm toe by hom: “Hoe kan jy sê jy is lief vir my, maar jy vertrou my glad nie? Drie keer het jy my al vir die gek gehou. Jy wil nog steeds nie vir my sê waarin jou krag lê nie.”

16. So het sy dagin en daguit by hom bly neul totdat hy gevoel het hy word gek daarvan.

17. Toe het hy sy hart vir haar oopgemaak. Hy het vir haar gesê: “My hare is nog nooit geskeer nie. Ek is van my geboorte af as nasireër aan God gewy. As my hare afgeskeer word, sal my krag verdwyn. Ek sal dan magteloos wees en soos enige ander mens.”

18. Delila het gesien dat hy hierdie keer vir haar sy geheim vertel het. Sy het toe die leiers van die Filistyne laat kom en vir hulle gesê: “Hierdie keer moet julle kom! Hy het my nou sy geheim vertel.” Die leiers het gekom en die geld vir die betaling saamgebring.

19. Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak. Sy het ’n man nadergeroep om Simson se sewe haarlokke af te skeer. Sy het seker gemaak dat hy bedwing sal kan word. Sy krag het verdwyn.

20. Sy roep toe uit: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Hy het uit die slaap wakker geword en by homself gedink: “Ek sal weer uit die ding kom soos al die vorige kere.” Maar hy het nie geweet dat die Here hom verlaat het nie.

21. Die Filistyne het hom vasgebind. Hulle het sy oë uitgesteek. Hulle het hom na Gasa toe gevat en hom met twee koperkettings vasgemaak. In die tronk moes hy meel maal.

Lees volledige hoofstuk Rigters 16