Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 16:20-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Sy roep toe uit: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Hy het uit die slaap wakker geword en by homself gedink: “Ek sal weer uit die ding kom soos al die vorige kere.” Maar hy het nie geweet dat die Here hom verlaat het nie.

21. Die Filistyne het hom vasgebind. Hulle het sy oë uitgesteek. Hulle het hom na Gasa toe gevat en hom met twee koperkettings vasgemaak. In die tronk moes hy meel maal.

22. Maar daar het sy afgeskeerde hare weer begin groei.

23. Die leiers van die Filistyne het saamgekom om in die tempel ’n groot offerfees vir hulle god Dagon te hou. Hulle het vir mekaar gesê: “Ons god het ons vyand Simson in ons hand gegee.”

24. Toe die mense hom sien, het hulle hulle god begin loof en gesê: “Ons god het ons vyand wat ons land so verwoes het en so baie van ons doodgemaak het, in ons mag gegee!”

25. Toe die Filistyne begin dronk word, het hulle gesê: “Bring Simson vir ons dat hy ons kan laat pret hê.” Hulle het Simson uit die tronk gaan haal om hulle te kom vermaak. Hulle het hom tussen die twee hoofpilare van die tempel laat staan.

26. Hy het vir die seun wat hom aan die hand gelei het, gevra: “Laat my by die pilare van die tempel staan dat ek daarteen kan leun.”

27. Die tempel was propvol mans en vroue. Al die leiers van die Filistyne was daar. Op die dak van die tempel was daar ook omtrent 3 000 mans en vroue wat kom kyk het hoe Simson hulle gaan vermaak.

28. Simson bid toe tot die Here: “Oppermagtige Here, dink tog aan my! God, maak my tog net hierdie een keer so sterk dat ek my op die Filistyne kan wreek vir my oë!”

29. Simson het met sy hande teen die twee hoofpilare gedruk waarop die gebou rus. Hy het met sy regterhand en sy linkerhand elkeen teen ’n pilaar gedruk.

30. Toe bid hy: “Laat my saam met die Filistyne sterf!” Hy het met al sy krag teen die pilare gedruk en die tempel het inmekaargestort op die leiers van die Filistyne en al die mense wat daarin was. Met sy dood het Simson baie meer mense doodgemaak as deur sy hele lewe.

Lees volledige hoofstuk Rigters 16