Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:6-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Adoni-Besek het op die vlug geslaan. Hulle het hom egter agternagesit, hom gevang en sy duime en sy groottone afgesny.

7. Toe sê Adoni-Besek: “Ek het al 70 konings se duime en groottone afgesny en hulle aan my onderwerp.God het my nou terugbetaal vir wat ek gedoen het.” Hulle het Adoni-Besek na Jerusalem toe laat gaan. Daar het hy gesterf.

8. Juda het teen Jerusalem gaan veg en die stad ingeneem. Hulle het die inwoners doodgemaak en toe die stad aan die brand gesteek.

9. Daarna het hulle gaan oorlog maak teen die Kanaäniete wat in die heuwels, in die Negevwoestyn en op die kusvlakte gewoon het.

10. Juda het opgeruk teen die Kanaäniete wat in Hebron bly. Hebron se naam was vroeër Kirjat-Arba. Daar het hulle die oorhand gekry oor Sesai, Agiman en Talmai.

11. Van hier af het Juda met die mense wat in Debir woon, gaan veg. Debir se naam was vroeër Kirjat-Sefer.

12. Daar het Kaleb beloof: “Die man wat Kirjat-Sefer aanval en inneem, kan met my dogter Aksa trou.”

13. Otniël was die seun van Kaleb se jonger broer Kenas. Hy het dit ingeneem. Kaleb het hom met sy dogter Aksa laat trou.

14. Nadat sy met hom getrou het, het sy Otniël aangehits om vir haar pa meer grond te vra. Toe sy by hom kom en van haar donkie afklim, het Kaleb vir haar gevra: “Wat is dit?”

15. Sy sê vir hom: “Seën my tog asseblief nog meer. U het vir my grond in die droë Negevwoestyn gegee. Gee tog vir my ook plek wat water het.” Kaleb het toe vir haar plekke met fonteine in sowel die hoër as die laerliggende dele gegee.

16. Die Keniete was afstammelinge van Moses se skoonpa. Hulle het saam met die mense van Juda uit die Palmstad na die Judawoestyn toe getrek. Hulle het by die mense van die land daar in die woestyn naby Arad gaan bly.

17. Juda en Simeon het saam teen die Kanaäniete wat in Sefat bly, gaan veg. Hulle het die stad totaal verwoes en dit Gorma genoem.

18. Juda het ook nog Gasa, Askelon en Ekron met hulle omliggende gebiede aangeval.

19. Die Here was by Juda. Hulle het die heuwelgebiede ingeneem. Hulle kon egter nie die inwoners van die vlakte oorrompel nie, want hulle het ysterstrydwaens gehad.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1