Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 21:4-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Hulle is van Gorma af weg met die pad na die Rietsee toe om by Edom verby te kom. Langs die pad het hulle ongeduldig begin word.

5. Die volk het teenoor die Here en Moses begin kla: “Waarom het jy ons uit Egipte laat trek om hier in die woestyn te sterf? Hier is nie kos en water nie. Ons walg van die nuttelose manna!”

6. Die Here het toe giftige slange onder die volk gestuur. Hulle het die volk gepik. Baie uit Israel is daarvan dood.

7. Hulle het na Moses toe gekom en by hom bely: “Ons het ’n fout gemaak met wat ons teen jou en die Here gesê het. Bid tog vir die Here dat Hy die giftige slange van ons af sal wegvat.” Moses het toe namens die volk tot God gebid.

8. Die Here het vir Moses gesê: “Maak vir jou ’n afbeelding van ’n giftige slang en sit dit bo-op ’n paal. Elkeen wat gepik is en daarna kyk, sal bly leef.

9. Moses het toe ’n slang van brons gemaak en dit bo-op ’n paal gesit. As ’n slang iemand gepik het, het hy na die bronsslang gekyk en hy het bly leef.

10. Die Israeliete het toe verder getrek tot by Obot en daar kamp opgeslaan.

11. Van daar het hulle versit na Ije-Abarim in die woestyn, oos van Moab.

12. Hulle is van daar af weg en het by die Seredspruit gekampeer.

13. Van daar af het hulle verskuif na die Arnonrivier, wat uit die gebied van die Amoriete vloei. Die Arnon vorm die grens tussen die gebied van die Moabiete en die Amoriete.

14. In Die boek van die oorloë van die Here staan daar geskryf:“By die dorp Wahebin die gebied van Sufa en die spruit van Arnon,

15. en die vallei by die spruite wat strek tot by die nedersetting van Ar by die grens met Moab.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 21