Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 20:13-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Vandaar die naam “Waters van Meriba”, want die Israeliete het daar met die Here getwis. Daar het Hy vir hulle gewys hoe heilig Hy is.

14. Moses het van Kades af boodskappers na die koning van Edom gestuur: “Jou broersvolk Israel sê: Jy weet watter ontberings ons gely het.

15. Ons voorouers het afgegaan na Egipte toe. Ons het baie jare in Egipte gewoon. Egipte het ons voorouers baie sleg behandel.

16. Ons het die Here om hulp gesmeek. Hy het ons gebede verhoor en sy engel na ons toe gestuur. Hy het ons uit Egipte gelei. Ons is nou by Kades op die grens van jou land.

17. “Gee tog toestemming dat ons deur jou land kan trek. Ons sal nie deur jou veld of jou wingerde trek nie. Ons sal ook nie water uit jou putte gebruik nie. Ons sal op die Hoofweg van die Konings bly sonder om links of regs af te wyk totdat ons dwarsdeur jou gebied is.”

18. Die koning van Edom het hulle geantwoord: “Julle mag nie deur my gebied trek nie! Ek sal met my weermag teen julle uittrek!”

19. Die Israeliete het hom laat weet: “Ons sal met die grootpad langs hou. As ons of ons vee van jou water drink, sal ons daarvoor betaal. Ons wil werklik niks anders doen nie as net om deur jou gebied te trek.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 20