Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:13-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Is dit nie alreeds erg genoeg dat jy ons uit die vrugbare land weggevat het om hier in die woestyn dood te gaan nie? Nou wil jy jouself nog as baas oor ons aanstel!

14. Jy het ons glad nie na ’n vrugbare land toe laat kom nie. Jy het ons nie landerye en wingerde gegee om te besit nie. Probeer jy hierdie mense ’n rat voor die oë draai? Ons sal nie kom nie!”

15. Moses het toe baie kwaad geword. Hy het vir die Here gesê: “Moenie hulle graanoffers aanvaar nie. Ek het nie eers ’n donkie by een van hulle gevat nie. Ek het nooit enigeen van hulle benadeel nie.”

16. Moses het vir Korag gesê: “Jy en al jou kamerade moet môre hier voor die Here kom. Aäron moet by wees.

17. Laat jy en Aäron en elkeen van jou 250 handlangers ’n vuurpan dra en wierook om daaroor te gooi en kom dan na die Here toe.”

18. Elkeen het toe ’n vuurpan gevat, vuur daarin gesit, wierook daaroor gestrooi en by Moses en Aäron by die ingang van die tabernakel gaan staan.

19. Korag het die volk teen hulle opgesweep. Hulle het by die ingang van die tabernakel kom staan. Toe het die hele gemeenskap bewus geword van die Here se magtige teenwoordigheid.

20. Die Here het vir Moses gesê:

21. “Staan weg van hierdie mense af dat Ek hulle met een slag kan vernietig!”

22. Moses en Aäron het toe op die grond neergeval. Hulle het gesmeek: “O God, die God wat asem gee vir alles wat lewe. Moet U nou vir die hele gemeenskap kwaad word net oor een mens wat oortree het?”

23. Die Here het vir Moses gesê:

24. “Sê vir die mense dat hulle moet padgee van Korag, Datan en Abiram se tente af.”

25. Moses het toe opgestaan en na Datan en Abiram toe gegaan. Die leiers het agter hom aan getou.

26. Hy het met die mense gepraat en vir hulle gesê: “Staan terug van hierdie slegte mans se tente af! Moet aan niks vat wat aan hulle behoort nie sodat julle nie ook saam vernietig word deur al hulle oortredings nie.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 16