Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 3:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die hoëpriester Eljasib en van die ander priesters het by die Skaappoort met die bouwerk begin. Nadat hulle die deure gehang het, het hulle dit aan die Here toegewy. Hulle het ook die gedeeltes van die muur tot by die Toring van die Honderd en die Gananeltoring toegewy.

2. Mense uit Jerigo het die volgende deel gebou en langs húlle het Sakkur seun van Imri gebou.

3. Die Senaäfamilie het die Vispoort herbou. Hulle het al die balke ingesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit.

4. Meremot, seun van Urija en kleinseun van Kos, het die volgende deel van die muur herstel. Langs hom het Mesullam, seun van Berekja en kleinseun van Mesesabel, gewerk, en langs hóm Sadok seun van Baäna.

5. Langs hulle het die mense van Tekoa gewerk, maar hulle leiers het geweier om vir hulle Here te werk.

6. Jojada seun van Paseag en Mesullam seun van Besodja het op hulle beurt weer die Ou Stadspoort herbou. Hulle het al die balke ingesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit.

7. Langs hulle het Melatja van Gibeon en Jadon van Meronot herstelwerk gedoen. So ook die mense van Gibeon en Mispa waar die hoofkwartier van die goewerneur van die provinsie wes van die Eufraatrivier gesetel was.

8. Ussiël seun van Garhaja, ’n goudsmid, het aan die volgende deel van die muur gewerk, gevolg deur Gananja, ’n parfuumvervaardiger. Hulle het ’n deel van die muur om Jerusalem gebou tot so ver as die gedeelte bekend as die Breë Muur.

9. Die volgende deel van die muur is deur Refaja seun van Gur herstel. Hy was die hoof van die helfte van die Jerusalemdistrik.

10. Jedaja seun van Garumaf het die volgende gedeelte van die muur wat reg langs sy huis was, reggemaak. Langs hom het Gattus seun van Gasabneja gewerk.

11. Op hulle beurt het Malkija seun van Garim en ook Gassub seun van Pagat-Moab langs hulle gewerk. Hulle het die Bakoondtoring asook ’n verdere gedeelte van die muur herstel.

12. Sallum seun van Loges het saam met sy dogters die volgende gedeelte van die muur herstel. Sallum was die hoof van die ander helfte van die Jerusalemdistrik.

13. Ganun en die inwoners van Sanoag het die Dalpoort herstel. Hulle het dit herbou, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. Hulle het ook die 450 meter lange muur tot by die Mispoort herstel.

14. Milkija seun van Rekab het die Mispoort herstel. Hy was die hoof van die Bet-Keremdistrik. Nadat hy die poort herstel het, het hy die deure gehang en die slotte en grendels aangesit.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 3