Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 12:21-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Gasabja van Gilkija, Netanel van Jedaja.

22. Tydens die regering van Darius van Persië, in die tyd van Eljasib, Jojada, Joganan en Jaddua, is die name van die familiehoofde van die Leviete en die priesters opgeskryf.

23. Die Levitiese familiehoofde is opgeskryf in die Kroniekboeke tot die tyd van Joganan seun van Eljasib.

24. Die leiers van die Leviete was Gasabja, Serebja en Jesua seun van Kadmiël. Oorkant hulle was hulle medewerkers wat die Here moes loof en dank. Die groepe het regoor mekaar gestaan en beurtelings op mekaar gereageer soos Dawid, die man van God, aan hulle voorgeskryf het om te doen.

25. Die ander was Mattanja, Bakbukja en Obadja. Mesullam, Talmon en Akkub was deurwagte wat by die voorraadkamers in die poorte diens gedoen het.

26. Hierdie mense het in die tyd van Jojakim seun van Jesua, seun van Josadak, en in die tyd van die goewerneur Nehemia en die priester en skrifkenner Esra diens gedoen.

27. Met die inwyding van die muur om Jerusalem het hulle die Leviete oral by hulle huise gaan soek en gevra om na Jerusalem toe te kom. Hulle moes met die seremonies help en met lofliedere en die musiek van simbale, harpe en liere aan die feesvierings deelneem.

28. Hulle het sangers uit die omgewing van Jerusalem en uit die Netofanedorpies bymekaargebring.

29. Verder ook uit Bet-Gilgal en uit die landelike gebiede van Geba en Bet-Asmawet. Die sangers het almal hulle blyplekke rondom Jerusalem gebou.

30. Die priesters en die Leviete het eers hulleself gereinig en daarna die mense, die poorte en die muur.

31. Ek het die leiers van Juda op die muur laat klim en toe twee groot kore saamgestel om lofliedere te sing. Ek het die een koor suid op die muur langs laat loop tot by die Vullispoort.

32. Agter hulle het Hosaja en die helfte van die leiers van Juda geloop,

33. en verder Asarja, Esra, Mesullam,

34. Juda en Benjamin, Semaja en Jeremia.

35. Daar het ook ’n aantal priesters met trompette geloop. Hulle was Sagaria seun van Jonatan, seun van Semaja, seun van Mattanja, seun van Miga, seun van Sakkur, seun van Asaf.

36. Laastens het sy medewerkers Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani met die musiekinstrumente van Dawid, die man van God, gekom. Die skrifkenner Esra het die optog gelei.

37. By die Fonteinpoort het hulle reguit met die trappe teen die skuinste van die muur opgestap na die Dawidstad toe. Hulle het bokant die paleis van Dawid langs gestap tot by die Waterpoort aan die oostekant.

38. Die ander koor wat ook lofliedere gesing het, het noord geloop. Ek en die ander helfte van die ander mense het hulle op die muur langs gevolg, oor die Bakoondtoring tot by die Breë Muur,

Lees volledige hoofstuk Nehemia 12