Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 9:7-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Moses sê toe vir Aäron: “Kom na die altaar toe en bring jou sonde-offer en brandoffer om versoening te bewerk vir jouself. Bring dan die offers om ook versoening te bewerk vir die volk, net soos die Here beveel het.”

8. Aäron het na die altaar toe gegaan en ’n kalf geslag as ’n sonde-offer vir homself.

9. Sy seuns het vir hom die bloed gebring, hy het sy vinger in die bloed gedruk en dit aan die horings van die altaar gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die kant van die altaar uitgegooi.

10. Toe het hy die vet, die niere en die punt van die lewer van die sonde-offer op die altaar verbrand, net soos die Here vir Moses beveel het.

11. Die vleis en die vel is aan die buitekant van die kamp verbrand.

12. Aäron het toe ook die dier vir die brandoffer geslag. Sy seuns het vir hom die bloed gebring en hy het dit teen die kante van die altaar gesprinkel.

13. Hulle het die dier stuk vir stuk saam met die kop vir hom aangegee en hy het elke deel op die altaar verbrand.

14. Hy het toe die binnegoed en die bene gewas en dit ook as ’n brandoffer op die altaar verbrand.

15. Daarna het Aäron die offers vir die volk gebring. Hy het die bokram geslag en as sonde-offer vir die volk gebring net soos hy dit vir homself gedoen het.

16. Hy het toe ook die brandoffer gebring en dit op die voorgeskrewe manier geoffer.

17. Hy het ook ’n graanoffer gebring en ’n hand vol meel op die altaar verbrand, bo en behalwe die gebruiklike oggendbrandoffer.

18. Aäron het toe die bees en die ram as die volk se maaltydoffer geslag. Sy seuns het die bloed vir hom gebring en hy het dit teen die kante van die altaar gesprinkel.

19. Toe het hy die vet van die bul en die ram – die vet van die stert, die vet rondom die binnegoed, saam met die niere en die punt van die lewer – gevat en

20. dit bo-op die borsstukke van die diere gepak en dit toe op die altaar verbrand.

21. Aäron het die borsstukke en die regterboud opgelig as ’n offer vir die Here, net soos Moses beveel het.

22. Na al die dinge het Aäron sy hande uitgesteek na die volk toe en hulle geseën. Nadat hy die sonde-offer, die brandoffer en die maaltydoffer gebring het, het hy van die altaar af geklim.

23. Moses en Aäron het toe in die tent van ontmoeting ingegaan en toe hulle uitkom, het hulle weer die volk geseën. Die glorieryke teenwoordigheid van die Here het toe vir die hele gemeenskap sigbaar geword.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 9