Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 9:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Na die wydingseremonie, op die agtste dag, het Moses vir Aäron en sy seuns en die leiers van Israel bymekaargeroep.

2. Hy het vir Aäron gesê: “Neem ’n jong bul as ’n sonde-offer en ’n ram as ’n brandoffer en gee dit vir die Here. Al twee diere moet sonder enige liggaamsgebrek wees.

3. Sê dan vir die Israeliete om ’n bokram as sonde-offer en ’n jaaroud bulkalf en ’n lam as brandoffer te bring, almal sonder liggaamsgebrek.

4. Sê ook vir hulle om ’n bees en ’n ram as ’n maaltydoffer te bring en meel gemeng met olyfolie as ’n graanoffer. Sê vir hulle om al hierdie offers aan die Here te bring omdat Hy vandag aan julle gaan verskyn.”

5. Die volk het toe al hierdie dinge na die voorkant van die tent van ontmoeting toe gebring, net soos Moses hulle beveel het. Die hele gemeenskap het gekom en daar in die teenwoordigheid van die Here gestaan.

6. Toe het Moses gesê: “As julle hierdie instruksies van die Here volg, sal die glorieryke teenwoordigheid van die Here sigbaar word voor julle.”

7. Moses sê toe vir Aäron: “Kom na die altaar toe en bring jou sonde-offer en brandoffer om versoening te bewerk vir jouself. Bring dan die offers om ook versoening te bewerk vir die volk, net soos die Here beveel het.”

8. Aäron het na die altaar toe gegaan en ’n kalf geslag as ’n sonde-offer vir homself.

9. Sy seuns het vir hom die bloed gebring, hy het sy vinger in die bloed gedruk en dit aan die horings van die altaar gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die kant van die altaar uitgegooi.

10. Toe het hy die vet, die niere en die punt van die lewer van die sonde-offer op die altaar verbrand, net soos die Here vir Moses beveel het.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 9