Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25:15-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Wanneer julle grond van ’n buurman koop, moet die prys van die grond gebaseer word op die aantal jare sedert die laaste Jubeljaar. Die verkoper sal ’n prys vra op grond van die aantal oesjare wat nog oor is tot die volgende Jubeljaar.

16. Hoe groter die aantal jare voor die hersteljaar, hoe hoër die prys. Hoe minder die aantal jare, hoe laer die prys. Die verkoper van die grond verkoop mos eintlik ’n sekere aantal oeste.

17. Wys julle eerbied vir God deur mekaar nie uit te buit nie. Ek, die Here, is julle God.

18. “As julle veilig in die land wil woon, hou my gebooie en gehoorsaam my reëlings.

19. Dan sal die land goeie oeste lewer, julle sal goed eet en veilig in die land leef.

20. Julle kan miskien vra: ‘Wat sal ons gedurende die sewende jaar eet, aangesien ons in daardie jaar niks mag plant of oes nie?’

21. Die antwoord is: ‘Ek sal my seën oor julle gebied stuur in die sesde jaar sodat die land ’n baie goeie oes oplewer, genoeg om julle vir drie jaar lank te onderhou.

22. Wanneer julle weer saad plant in die agtste jaar, sal julle nog steeds van die opbrengs van die vorige jaar eet. Julle sal nog steeds van die ou oes kan eet totdat die nuwe oes eers in die negende jaar kom.’

23. “Onthou dat die land nooit op ’n permanente basis verkoop mag word nie, want eintlik behoort die land aan My. Julle is eintlik net vreemdelinge en huurders wat by My bly.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 25