Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 16:27-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

27. “Die geofferde bul en die bok wat gegee is as sonde-offers, waarvan Aäron die bloed in die Allerheiligste plek ingebring het om versoening vir Israel te doen, moet buite die kamp geneem word om daar verbrand te word. Dit sluit die diere se velle, binnegoed en die mis in.

28. Die man wat dit moet verbrand, moet sy klere was en homself in water was voordat hy na die kamp toe terugkeer.

29. “Op die tiende dag van die sewende maand moet julle vas en geen werk doen nie. Dit is ’n permanente wet vir julle en dit is van toepassing op alle gebore Israeliete en ook vir die vreemdelinge wat tussen julle woon.

30. Op dié dag sal daar versoening vir julle gedoen word en julle sal van al julle sondes voor die Here gereinig word.

31. Dit sal ’n Sabbatdag van totale rus wees en julle sal die dag deurbring deur te vas. Dit is ’n permanente wet vir julle.

32. In die toekoms sal die versoeningshandeling gedoen word deur die gesalfde hoëpriester wat in die plek van Aäron sal dien. Hy sal heilige linneklere aantrek

33. die Allerheiligste plek, die tent van ontmoeting en die altaar reinig en versoening doen vir die priesters en die hele volk.

34. Om een keer elke jaar versoening te doen vir die Israeliete is ’n permanente wet vir julle.” Moses het al hierdie instruksies wat die Here vir hom gegee het, gevolg.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 16