Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 10:6-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Moses sê toe vir Aäron en sy seuns Eleasar en Itamar: “Moenie rou deur julle hare los te laat hang of deur julle klere te skeur nie. As julle dit doen, sal julle sterf en sal die Here kwaad word vir die hele gemeenskap van Israel. Die res van die Israeliete, julle familielede, mag egter rou oor Nadab en Abihu wat die Here met vuur verteer het.

7. Maar julle mag glad nie die ingang van die tent van ontmoeting verlaat nie. Julle sal met die dood gestraf word as julle dit doen, want die Here se salfolie is op julle.”Hulle het gemaak soos Moses gesê het.

8. Die Here het vir Aäron gesê:

9. “Jy en jou seuns mag nooit wyn of enige ander alkoholiese drank drink voordat julle in die tent van ontmoeting ingaan nie. As julle dit doen, sal julle sterf. Hierdie is ’n permanente reëling vir jou en moet ook deur toekomstige geslagte nagekom word.

10. Jy is die een wat moet onderskei tussen dit wat heilig en onheilig is, tussen dit wat rein of onrein is.

11. Jy moet ook al die reëls wat die Here deur Moses aan die Israeliete gegee het, vir hulle leer.”

12. Moses het vir Aäron en sy twee oorblywende seuns, Eleasar en Itamar, gesê: “Neem van die graanoffer wat oor is nadat die hand vol vir die Here gebring is met ’n vuuroffer. Sorg dat daar nie suurdeeg in is nie en eet dit daar langs die altaar, want dit is baie heilig.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 10